Aan elke blaar in die tuin hang 'n druppel wat stadig afgly grond toe- die wonderlikste ding in die ganse skepping is seker 'n druppel water- of ...ek weet nie maar dit is verseker die noodsaaklikste. Wat ek alles geleer het van die oppervlakspanning en dies meer, het ek lankal vergeet, maar nou terwyl ek na my tuin staan en kyk verwonder ek my aan elke druppel. 'n Druppel kan mos stadig afgly en aan die punt van 'n blaar hang en dan skielik verdwyn, of in 'n spinnerak teen die eerste sonstrale vasgevang bly sit en wraggies 'n volmaakte reenbogie uitsprei, of in die kelk van 'n blom bly sit en boonop vorm behou.
Saadjies wat jare der jare daar wag vir die eerste reen. Die grond bewaar die saad totdat die tyd en reenval reg is. Jy weet daar was mere met water in die Karoo! Ongelooflike watermassas het glo daar gele en wie weet wat was alles versteek in daardie grond. Wat ek wel weet is dat jy nou nog in die vleie na goeie reens skulpies kry van klein slakkies! Kan jy glo die kleinste slakkies kruip uit van iewers en dan wanneer die water wegdroog tel mens die fynste skulpies op.
Wel, in my tuin word ek dikwels verras deur 'n besoeker. Sommige besoekers het helder
klere aan en ander donker. Sommiges kom sit net om die water en plante geniet. Hulle besoek my tuin natuurlik met 'n rede. Meeste skarrel rond, luister, wag en gaan. Die ander dartel so 'n bietjie en kwetter oor dit en dat maar dan is daar die wat spesifiek kom om die water te geniet en dit is hulle wat ook dadelik nader kom wanneer ek die krane oopdraai en die water borrel deur die spreierkoppe. Ek noem hulle onverwagte gaste, hulle geniet dit so baie dat ek skuldig voel om die water weer weg te neem.
Die beste van alles is dat die besoekers my nooit eers groet nie, hulle kom en geniet die tuin, die plante en water, nie een se dankie of groet my nie, ek het tot die slotsom gekom dat ek die besoeker is en dat ek my net verbeel die tuin behoort aan my. Ek kan woes te kere gaan in die tuin, dooie groei uitsny en uittrek. Plante verskuif of nuwes inbring en dan ruk ek ou plante uit. Soms praat ek van die onderbos wat ek moet uitdun want as jy jou oe uitvee groei sommige spesies die ander dood. Terwyl die besoekers tevrede is, ongeag hoe dit lyk, hulle geniet elke hoekie.
In die lewe is dit ook so... as ons nie die onderbos kortvat nie groei dit die ander dele van ons siel heeltemal toe en kan mense nie meer ons karakter raaksien nie net die rankers van die woeste grondbedekkers, dit wat ons plant sodat ander nie die foute moet sien nie. Grondbedekkers is nuttig dit maak dat onkruid ook nie maklik opkom nie. Ons kan maklik 'n nuttige grondbedekker in ons siel plant wat sal keer dat onkruid nie posvat nie.
Ek gooi my hande in die lug om dankie te se aan die eienaar van my tuin, die Skepper.
Want net soos die voels is ek ook net 'n besoeker.
baie mooi. Hierdie en die vorige stukkie lees soos dagstukkies. Dit is baie oulike en ek hou van die beeld van die grond bedekker van die siel.
AntwoordVee uit