Donderdag 21 Julie 2016

Dierbare Here,
Help my om n klein rukkie stil te word by U. Laat ek die gejaag om my vir n oomblik laat begaan.
Ek het vir my n koppie tee gemaak en sou so graag wou dat U hier saam met my in die sonnetjie wat plek - plek deur die boom se takke val, kom sit Here.
Diep binne my weet ek U is hier.
Ek wil vanoggend niks kom vra nie Here. Net kom dankie se vir U Almagtige teenwoordigheid rondom my. In die tuin, die plante, die voels in die boom.
Die tortelduifies wat skaam eenkant sit.
Ek wil dit alles graag met U deel
Jesus Christus, dankie dat U met my die pad stap van ouer word.
Dankie dat ek weet U hou my hand vas,
U beskerm my teen mense se ongeduld wanneer ek nie wil simkaarte omruil, data rondstuur nie maar net by U wil stil sit vir n ou klein rukkie nog.
Dankie, dat U nie soos mense sal wegloop en my daar op die houtbankie onder die boom alleen sal los nie.
Dankie Here vir U belofte dat U tot die einde van die tyd by my sal wees.
U is groot bo almal.
Het U gesien hoe die son deur die Strilitzia skyn? Die dou op die enkele roos?
Ja, U het die aarde so lief gehad...
ek weet U het gesien hoe n blaar op my hand val want U is hier.

Dit was U ...