Donderdag 18 Desember 2014

n Vakansie soos min.

n Voorreg om saam te wees.
Vir my is dit nie baie lank gegun om my opgegroeide kinders naby my te he nie, n leemte soos n vakuum het vir my ontstaan. Ek kon nie my ouerword met hul deel nie, ek kon nie oorstap vir tee nie, ek kon nie inval vir n Sondagmidagete nie...net mooi niks want my kinders het die een na die ander op n vliegtuig geklim en hulle self gaan vestig in n land ver van hier.
My hart was stukkend, ek het gevoel ek gaan hierdie ding nooit ooit onder die knie kry nie. Ek was nie eenkeer op die lughawe toe hulle drie weg is nie. Nie omdat ek nie kon nie, omdat ek nie wou nie...ek wou nie aanskou hoe lig my kinders hul voete van die Afrika kontinent af vir altyd en altyd nie.
Ek het nie veel ondersteuning van iemand af gekry nie en moes deur dit alles self worstel. "Ons sal kom kuier, mamma." het in my ore bly weerklink.
"ons kan gereeld skype en alles daar is soveel beter soveel meer ingerig en veilig en georganiseerd, net die beste...

My hart was seer, ek was kwaad vir weke, vir maande, dalk nou nog. Ek het gaan kuier en hulle was so eenkeer hier...totdat my jongste kind my kom haal het en deur die Karoo Kaap-toe gery het met my.
Ek kon die Gannaklip sien, die Kapokbos en Bitterbos ruik, ek kon weer in Beaufort West se strate rondstap en saam met haar oorslaap in n heerlike pragtige gastehuis. By Drie Susters het ons omgedraai om n foto te neem van die drie koppe wat so hoog uittroon en anders lyk as die res agter hulle.
In Beaufort west het ons winkeltjies deur gedraf en die aand geeet by n restaurant wat die heerlikste kos maak. n Wegsteekplekkie in die hart van die Karoo. Ons ontmoet die eienares en ek sien n mens wat die wereld deurreis het, n kunstenaar en mense kenner.
Ons ry deur DeDoorns en soek iets koels om te drink maar heelaas niks gekry nie. Die Paarlvallei sprei voor ons oop en ons bevind ons in n ander wereld.

Die Hexriviervallei met sy laslappieskombers wat op n dag deur n onbekende persoon, n goddelike, oopgesprei is, uitgeskud en oor die vallei neergele is. Wonderlik, asemrowend mooi. Aan weerskante omvou met die majestieuse berge wat waghou deur die eeue, hier het Adriaan Van der Stel kom rondloop en hoe ruig was dit toe nie. My gedagtes dwaal ver terug na tye saam met my ouers toe ons nog oor die Du Toitskloofpas gery het en nie deur die tonnel nie, hoe my pa stilgehou het en ons oor die vallei kon uitkyk. Dit slaan nou nog my asem weg.

Ons het die Kaap ingevaar. Ons in Kaappunt in die Royal Atlantic gaan tuismaak. Mordern en netjies, maar nie so nostalgies soos Beaufort West nie. Hier kon ons gaan stap veilig en rustig ver ente langs die see, ons het gaan roomys eet, Bogatti...uit die boek. Vroeg in die oggende wanneer ek nog vas slaap het my kind gaan draf teen die see, selfs Leeukop uitgedraf een oggend en ek weet van niks. Ons het Tafelberg aangedurf darem met die kabelspoor en die berg bo verken. die fynbos en die rotse wat vir duisende jare daar is.
Na die naweek was dit tyd om te pak ons het op Simondium in n gastehuis gaan bly Fleur en Lust...wat n ondervinding. So mooi, so anders, soveel in n ander klas. Dit was ongelooflik. Soveel herinneringe het na my teruggekom van jare gelede.

Stellenbosch het ons verras, soveel verander deur die jare, die bome lyk groter ouer die geboue staan nog en ek herken die koshuis en botaniese tuin waar ons n heerlike middagete geeet het. Ek stap weer met die paadjie op na die koshuis, Monica, en dit voel asof ek nooit weg was nie. Al is daar verbreek en verbou aan die soliede ou gebou bly daar nog iets nostalgies, fors en fier.
Vir oulaas het ons na die Paarlvallei gaan kyk, foto's geneem , maar niks kan dit vasvang soos net jou eie oe en hart. Dit is iets wat in jou kom nesmaak, geen foto, geen skildery kan die skoonheid weergee.
Ons het die Waterfront platgeloop, winkeltjies met afrika ornamente is oral en vollop...seker die dat ons besluit het om Robbeneiland te besoek.Ek wou nog altyd voel hoe dit voel op n boot op die oopsee en nou het ek, ons kon die beste uitsig op Tafelberg kry. Die "Long walk to freedom" is afgehandel...
Dankie Sussa vir die wonderlike tydjie saam met jou, nou sal ek berus dat Afrika eintlik nie vir julle bedoel was nie...