Woensdag 22 Oktober 2014

VIR MY PA.

Pa, gister het ek so na jou verlang met oe wat vol trane was het ek op die stoep van n VLV vriendin, gestaan en uitkyk oor n vallei wat ek nooit geweet bestaan het nie...
Ons het in die huis op n plaas in die distrik Petrusville VLV gehad en n asemrowende uitsig het ons begroet...
Ek skryf hierdie sommer so uit die vuis vir Pa en my hartsvriendinne op die groep.
Vir elkeen wat n Pa gehad het en hom moes groet langs n oop graf.

Pa by jou het ek so baie geleer, van die veld, die boerdery, die bossies, van Ganna tot Kapok en al die grassade wat jy my gehelp versamel het vir n skooltaak. Kort en Langbeenboesman wat pienksaadjies maak en teen die skuins stale van die son n kleursimfonie gesprei het oor veld en klip.
Die omgee sal ek nooit vergeet...hoe jy my ver moes aanry skooltoe al was die geld in die bank lankal op.
Vir die dag toe ons jou skape op die trein gelaai het en toe die rekening kom moes Pa inbetaal...eintlik het Pa niks gekry vir die skaap wat met soveel sorg gelaai en versorg is nie.

Ek sal nooit vergeet hoe swaar Pa saam met die diere gekry het nie, die Dikkop, Bloutong en al die peste wat in Levitikus genoem word nie. Hoe ons die lammerooie eie handig laat slaap het in die afdak, met jou eie hande gebou, die garage waar die voertuie moes staan. ek onthou hoe die lammertjies op die sementvloer gegly het. hoeveel gevrek het van die skielike koue na die reen.
Pa ek sal nooit vergeet hoe Pa my probeer beskerm het teen die gevare van die lewe nie, al het dit gelyk of ek nie omgee nie...EK HET OMGEGEE.
Gister se kyk oor die vallei van die eers dorre landskap, waar groen lande nou omgeploeg staan, vol wuifende koring. Dit was eers bossieveld, goeie weiding vir die skaap. Ek wens so ek kon dit vir Pa wys.

Ek sal nooit vergeet na die goeie reens hoe die sprinkaan swerms alles kom opvreet het nie.
Daarom se ek vandag dankie vir n Pa soos myne wat ons laat lag het, laat huil het wat selfs op vyftig op die grens gaan veg het vir n land wat aan sy kinders sou behoort.
Dankie Pa.

Dinsdag 21 Oktober 2014

HY KOM

" Ek is die eerste en Ek is die laaste, buiten My is daar geen God nie." -Jes 44:6

"Here ons Almagtige, Skepper van die Heelal,
dit is hoekom ons bly glo,
bly vashou aan U soos drenkelinge
met net daardie spatsel hoop
in ons dat U wel nog daar is,
dat U nog sal kom om ons te bevry
van n hoop wat ander lankal gelaat los het,
ons bly kleef aan die hoop om U te sien kom op die wolke
U ons sal kom haal om vir ewig in die Lig van U bomenslike krag te lewe.
Dankie dat die Hoop ons nie sal beskaam
dat ons weet U kom haal U skat."

(geskryf uit my hart.)

Woensdag 08 Oktober 2014

BEGIN BY DIE BEGIN

Partykeer wens mens dat jy dalk n bietjie dommer was sodat jy nie alles kon verstaan nie.


Die pad Luckhoff toe ry ek versigtig want dan kyk ek na dinge uit my kinderdae. Die aalwyne teen die berg, die ape langs die pad. Ek is tog so bang om een dood te ry alhoewel ek weet dat dit vir die boere dalk lekker mag wees om hulle dood te ry omdat die stropers van goeie kos in hulle skuil.
Daardie iets wat in elkeen skuil is reeds daar om deur iemand anders wat slim genoeg is, op te spoor en lief te kry. Sommige van ons as mense het dit ook ...die stropery, die vernielsug, die vermorsing... Ek moes leer om my op te hou daaroor bekommer want dit, net daardie vuurhoutjiegrootte opvoedingvlak wat nie bereik is of nie wil bereik word nie sal veroorsaak dat ek ook myne verloor...

Dit laat my nou weer wonder is dit nie wat mense soms tot waansin dryf nie? Dat hulle moor en roof juis omdat daar iets is wat hulle nie kan verklaar nie...tog het ons binne onsself die vermoee om daaroor te dink en met onsself te redeneer totdat jyself of iemand hoer as jyself jou die oplossing wys. ek het altyd gese wanneer ek sukkel om iets te verstaan gaan terug na die begin, om terug te gaan van waar jy begin het voordat jy by die knoop in die tou uitgekom het help jou dikwels om die oplossing te vind wat die hele probleem ontknoop.
Dit is hoekom ek nou by die ape begin het, sommige ouens sal nou klaar weet waarop stuur ek af maar dalk net dalk is die einde anders as wat jy gedink het...

Die Aapma hou die kleintjie teen haar bors vas wanneer sy oor die pad skarrel om tussen die bosse in te verdwyn, net voor sy die Soetdoringbome ingaan, gaan sy sit en kyk na my, vir n sekonde ontmoet ons oe en ek dink net wanneer jyself n baba teen jou bors vasgedruk het en geweet het dit is jou eie, sal jy verstaan wat in daardie sekonde deur ons oe uitgeruil is... die wete dat daar n punt in die boltou is waar jy moet begin soek.
Ek sien vir n vlietende sekonde die kleintjie so groot soos n man se hand wat aan haar bors hang sy beskerm hom met haar een hand. Waarna die ape soek nadat die karre verby is, is omdat mense hulle oorskiet daar uitgooi, vir die ape maar ook om hulle te lok. Ek gril as ek dink hoeveel al hul lewens opgeoffer het vir die krummels van die rykman se tafel.
Die mens het sy hand in die natuur se sak gesteek. Dit wat die aapgetalle laag gehou het, is uitgeroei of dalk is dit omdat hierdie droe aarde nou geploeg en geplant word so kol-kol en daarom kom hulle hier bly en word hul meer.

n Ent verder loop ek hom raak, nee nie sommer hier tussen die Soetdorings nie eers daar waar die berg begin en die pad n draai maak Vanderkloof toe. Hy sit houtgerus en wag. Die wagter van die veld, dalk die wagter oor die lewe self, hy bekyk alles haarfyn en hou elke ding dop, ken elke klip dalk elke gogga ook. Hy het wel nie n naam nie het ook nie n ID dokument of paspoort nie, maar hy het die oe, die skakel in sy brein tussen die begin en die einde.

Ek het hom ook net in die verbygaan gesien, vinnig en geweet hier doen jy niks vreemds nie hy sal dan hoer op padgee. Sy sterk vierkantige kakebeen wys jou sommer hy is n moeilike man, hy is die "sentinel" die verspieder, die ou wat die alarm die berge instuur. hy is die skakel tussen die begin en die nou. Hy sien moeilikheid kom nog voor dit oor die laaste bult is want dan is dit te laat... sodra ek sou stilhou; het hy twee dinge gedoen of geskree-blaf om die res van die trop te waarsku om hoer op in die berg te vlug, wat ek dink sy eerste keuse wel sou wees, of hy het dalk as hy mak genoeg was, kom kyk of ek nie iets uitgooi vir hom om te eet nie.
Omdat ek so graag dinge wil behou soos dit was of is, sal ek dit nie doen nie want net daar le die punt tussen toe en nou, tussen die begin en die einde...gaan terug na die begin voordat jy die knoop sal loskry.