Vrydag 21 Oktober 2011

ONDER DIE STERRE

Ons het op 'n Karooplaas groot geword, daar is die sterre en son mos nader. Na aandete het ons buite gesit en die sterre dopgehou, gelukkig was daar nog nie TV nie. Ons het kosbare tyd spandeer saam met ons ouers wat vir ons geleer het waar sit die Suiderkruis, die Melkweg, Jupitor, ons het die maan bewonder en wanneer hy vol was kon ons die hele plaaswerf sien, dan het ons in sy lig gesit en gesels tot laat. Die fluweelnag agter die sterre was buite ons bereik maar tog deel van die wonderlike skepping van God.

Ken jy die mag van God? Weet jy hoe het Hy die uitspansel gemaak? Het jy al gewonder oor gister, vandag en more, hoe weet hul van mekaar? Wat laasnag gebeur het is miskien vir mense bedek maar nie vir God nie. Sonder om te praat, te skree, te roep weet die heelal van God se wonderlike instandhouding. Wanneer ons na die uitspansel kyk kom ons iets agter van God se majesteit...daar gaan 'n boodskap van dit uit na ons hier op aarde. Hoe word alles so presies wiskundig bepaal? Wanneer jy weer die geleentheid het om in 'n oop stuk veld onder die sterre te sit met net die naggeluide om jou, luister na die sterre en voel hoe jy die grootsheid van God ervaar. Ps 19 :2 ...die uitspansel maak die werk van Sy hande bekend.