Sondag 29 Januarie 2017

brief aan my niggie



                                                                                    
                                                                                               Posbus 7

                                                                                               Woestfontein

                                                                                                8771

                                                                                               27 Januarie 2017
My liewe nig Hester

 Ons sou so lekker hier op die plaas  gekuier het gedurende die lang

 skoolvakansie.  Nou is jy siek, ek hoop dit gaan al beter.  Ek kan jou verseker

 as jy hoor wat  gister met my gebeur het, is jy sommer gou perdfris.


 Omdat ek natuurlik so alleen is, het ek eers n uur lank gaan swem in die

plaasdam, nie die gronddam nie,  die sementdam naby die vrugteboord.

Met die terugstap huistoe,  val my oog op die solderdeur wat effens oopstaan.

Net daar besluit ek om bietjie daar te gaan rondsnuffel, dan trek ek sommer

 daar my klere aan.   Met die oopstoot van die deurtjie bo die trap,  het ek besef

 hoe vreeslik ek jou mis.    Spinnerakke hang alweer toue en die muise piep ook

 in hul broeiplekke.  Ek het  vasberade gebeur na die hoek waar ons die mandjie

 gesien het.  n Vlermuis het laag oor my gevlieg,  muise het geskarrel,

  spinnerakke het in die flou lig gebewe. Dit is stof sover ek gekyk het, natuurlik

 omdat die deur oop was.


  Net toe ek die mandjie sien,  slaan die deur met n harde knal agter my toe.

Verskrik het ek rondgetas, my hart het in my keel geklop.  Ek gooi sommer my

 somersrok bo-oor my nat swembroek ... alles het stil geword om my.

 Ek het die mandjie gegryp en teen die deur geskop.   Daar val darem

 ligstrepies deur die plankvloer se gleuwe en spasies waar kwaste uitgeval het.

 Die venster was gegrendel  so ek het maar daarvan vergeet.

 Die enigste manier uit is met die trap af.  Voor ons bang word, moet ek

besig word, het Ouma ons mos geleer.  Ja, ek weet ons het besluit om dit

saam te doen...  ek was immers in n noodsituasie of hoe?   Versigtig het ek stuk

 vir stuk uitgehaal en langs my neergesit, ek bedoel nou die mandjie se inhoud.


 Bo in die mandjie was Ouma se sjaal wat sy die laaste jaar om haar skouers

gedra het,  ek het dit versigtig om my skouers gehang en my verbeel ek sien

haar voor my sit met haar breiwerkie.

Alles wat in daardie mandjie was lyk nog silwerskoon,  nie veel stof op nie, as jy

in ag neem hoe lank sy reeds oorlede is.  Juwele in n leersakkie, kraletjies

 toegebind in n stukkie borduurlap, borsspelde en ander klein juwele in n

 gehekelde sakkie.


  Daar is wel ook n paar briewe in wat ons saam sal lees.  Wat ek onder

 die briewe ontdek het, het my na my asem laat snak. Eers het ek rondgekyk in

 die solder en doodseker gemaak niemand kruip daar weg nie, want hierdie

 gaan net ek en jy, my dierbare niggie, deel.
 
  
 Gelukkig het n werker my daarbo gehoor kap en skop aan die deur en het

  hy my kom red.  Dit was eers baie later, in my kamer, dat ek die geleentheid

 gekry het om weer daarna te kyk.  

 Daardie nag kon ek nie slaap nie.  Later het ek n kers opgesteek.

 In die lig van die kers was alles nog mooier,  nog meer interessant en meer

 nostalgies.  Alles, letterlik alles, in daardie mandjie is ongelooflik belangrik vir

 ons twee, naamgenote. Kan jy glo die liefdesbriewe aan Oupa toe hy in die

 Vryheidsoorlog geveg het, is veilig bewaar in mooi lap met n lintjie vasgestrik.


 Ons moet groot besluite neem oor die skat.  Dit moet iets asemrowend

 mooi of duur wees, want dit is veilig bewaar in n verseelde houtkissie.


  Ek wens so jy was gesond om te kom kuier!  Laat weet hoe dit gaan.

  Sterkte, tot ons mekaar weer sien.

     
        Met liefde- groete.

        Jou niggie, Nauda.
 

Ns.  Terloops daar was mos n halfgebreide breiwerkie bo in die mandjie, dit is

nou weg.



                                                                                 


 Geskryf deur: Nauda van Rensburg                                                                                  

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking