Saterdag 02 Augustus 2014

SLIMMER AS SLIM.

Oom Floors stap met sy lang bene, straat af. Vandag is die dag dat hy vir hom ook n nuwerwetse selfoon gaan koop. Hy hoor dit is maklik...die goed word al meer gerieflik en maklik. Hy was nog nooit dom nie, hy het goeie punte in die skool gekry vir somme, hy is seker dit gaan sommer kinderspeletjies wees om die slimfoon te bemeester.
"Slimfoon my voet." grinnik hy net voor hy die selfoonwinkel op die hoek binnestap.

"Goeie more, meneer, kan ek u help." Vra so n jong mannetjie wat lyk asof hy vars uitgebroei is, vir hom.

Oom Floors, wat n hele sesvoeter is met bree skouers en n gesig wat jou aan die plaaslike hoofregter laat dink, kyk die mannetjie op en af en hy dink. As hy dit kan doen hoekom nie ek wat voorry gespeel het vir Suidoos Transvaal, nie.
"More, ek sal bly wees as jy my kan help." Vriendelik word hy genooi om te sit en homself gemaklik te maak. Die mannetjie le agteroor op sy stoel en se vir iemand anders om koffie te bring.
"Dit is nog vroeg en meneer is seker lus vir n ou koffietjie."
"Ja dankie, dit sal lekker wees, ek het reeds vroeg weggetrek van die plaas af."
"Waarmee help ons vir Oom?"
Dis beter dink Oom Floors as om die heeltyd ge-meneer te word.

"Ja ou seun, jy sien ek wil vir my ook een van hierdie slimfone koop waarvan almal so praat deesdae. Ek wil sien hoe slim is die foon nou eintlik.."
Die mannetjie trek los en praat soos n jong predikant, dit is sus en dit is so, hy sal n kontrak moet uitneem...
" 'n Kontrak...nee maar dit is reg so, ek hou van kontrakte.
Destyds toe Piet Skoondraai my plaas wou huur het ek ook gese ek vereis n kontrak. Ek hou daarvan, man, n kontrak is die regte ding."
"Goed Oom, dit werk nou so, Oom moet net eers kyk na die foon en watter een Oom die beste mee sal regkom en dan teken ons die kontrak. Al wat die kontrak behels is maar net dat Oom nie voor agtienmaande weer n nuwe foon mag koop op hierdie kontrak nie."

Die mannetjie staan op en vat die koffie aan by die ander persoon wat so half sleepvoet loop. Hy sit Oom Floors se koffie voor hom neer op so n piepklein skinkbordjie met n nog kleiner bekertjie melk en suiker in papiertjies.
"Drink maar solank Oom se koffie, ek gaan net gou n selfoon haal wat ek dink perfek by Oom sal pas. "
Oom Floors roer tydsaam sy koffie en neem n klein slukkie, sit die beker netjies terug in die skinkbordjie.
"Oom" se die mannetjie ewe opgewonde voor hom...hy skrik half want hy het vir n oomblik aan sy ma gedink, hoe sy hom as klein kind geleer het om netjies en presies te wees.

Die mannetjie maak keelskoon, Oom Floors kyk op en sien die nuwe selfoon in die mannetjie se hand. Hy hou hom vas asof hy lankal geoefen het.

"Oom, ek dink hierdie is die regte foon vir Oom, hy is nie so ver gevorderd dat Oom hom nie sal kan verstaan nie, en hy het al die nodige funksies. Oom kan op die Internet met hom gaan, Facebook en Whatsapp..., is lig in n man se sak en maklik om vas te hou. n Gerieflike foontjie, ek het al baie van hulle verkoop."
Oom Floors het net die woorde 'nie so gevorderd' gehoor. Hoe durf die piepsnuiter dink hy is onnosel. Hy besef hy moet hom inhou, trek aan sy mouboordjie, versit sy lang bene versigtig.
"Oom, hanteer hom dan voel Oom hoe voel hy vir Oom." Die mannetjie gee die foon oor die lessenaar vir hom aan. Floors houvas die foon, wat wil die mannetjie nou he moet hy voel?
" Hoe voel hy Oom?" Intussen tik die mannetjie op die rekenaar voor hom dat die rook staan.
"Hy voel okay, sit hom bietjie aan dat ek sy gesig kan sien." Die foon is terug na mannetjie toe.
"Hiers hy Oom, hy lyk baie mooi. maklik en duidelik."
"... ek wil die tyd mooi kan sien op hom."
"Daar is die tyd regs bo."
"kan dit noe groter wys nie?"
"Oom wag ek kyk..." Mannetjie vat die foon en druk so bietjie aan hom, toe hy hom teruggee staan die tyd in dik vet syfers oor die hele gesig.
"Goed Oom, dit is nou Oom se Wall paper.'
'Wallpaper? O okay ek sien." Hy se maar niks want al "wallpaper" wat hy ken is wat sy vrou altyd teen die mure wou plak.

"Oom kan enige tyd hier kom inloer as Oom n probleempie het. Kom ek wys gou hoe bel mens met hom. "
"Kyk Oom, jy trek net jou vinger so oor die screen een keer saggies, moenie hard druk nie, en whalla daar gooi hy al Oom se contacts uit, kies een en touch net die screen so liggies dan sal hy bel. Oom kan selfs vir elke contact sy eie ringtone opsit..."
"Nee, wag, wag, wag, nou ou seun stadig nou ek sal weer later kom dan kan jy my help. Ek moet noueers gaan, kyk waar staan die tyd al ek moet op die plaas kom, ek is n besige man."

Oom Floors is daar weg vasgeteken met n twee jaar kontrak, n slimfoon wat hy gladnie weet hoe die ding werk nie. Die mannetjie se laaste woorde was nog, onthou Oom dis maklik, sy is soos n meisie touch haar net so liggies dan werk sy.
Oom Floors is huistoe met sy kompakte boksie vol van die slimfoon se "gadgets". Die helfte sal hy nooit by uitkom nie...gelukkig is daar n boekie ook geskryf in vele tale.
Daardie middag gaan le hy op sy bed wat so effens son kry in die middag...ag hoe salig sak sy seer lyf nie weg in die kussings nie. hy haal die foon uit wat nou klaar gelaai is.
"Nou gaan ek jou wys wie is baas. Gmf, vebeel jou maklik verstaanbaar."
Oom Floors vee so liggies oor die gesiggie van die foon, daar maak n klomp goed hul verskyning, hy kyk na dit en vlieg regop sodat hy op die kant van sy bed kan sit.

"Wag ek bel my ou buurman, die mannetjie het mos al my nommers op die foon in gesit, so het hy gese..." mompel Oom Floors.
Hy skuif sy voete rond, en voel hoe die ongeduld in hom opstoot. " Wag ek gaan maak koffie miskien verstaan ek hom dan." Hy stap kombuis toe.
Daar lui die foon...hy tel hom op en hou hom teen sy oor, nee niemand antwoord nie...na n paar minute lui die foon weer, hy tel weer die foon op en druk hom teen sy oor. Hy hoor niks, dan loop hy weg en gaan maak koffie.
In die kombuis le sy ou foontjie. Hy vat die en bel sy buurman.
Hy het n knap buurman, n geleerde man, netjiese boer, hy boer vanuit sy studeerkamer.

"Tommy, ek wil jou kom sien, dalk kan jy my help met die slimfoon wat ek nou gekoop het."
"Nee, maar dis reg Oom. Kom kyk sommer rugby vanmiddag dan kyk ons gou."
Dis rugby, die Bulle teen die Sharks.. hy weet sommer noual hier kom n ding, hy is n Bloubul en Tommy n Shark want Tommy se ma was Engels en dit is hoekom hy vir die Sharks skree en hoekom hy so kort- kort n engelse woord indruk. Dalk moet ek na Deon toe gaan, hy het ook so n tipe foon en hy is n Bloubul...ja nee ek sal Tommy bel en se Deon het my lankal genooi, ek het bietjie vergeet.

Oom Floors gaan sit by die kombuistafel in die huis wat hy self met sy eie hande gebou het, nou is dit n ander man s'n maar dit voel so of hy hier hoort. Hy sit n hele rukkie voor iemand hom gewaar.
"Haai Oom Floors, Oom sal laat ek skrik, amper gedink dit is n spook. "
"Dink jy dit spook hier?" vra Oom Floors rustig, hy peuter met die nuwe foon.
"Nee wat, ek speel net. Wil Oom koffie he?"
"Ja, asseblief...ken jy hierdie nuwe slimfone?"

Ek vat die foon by hom.
"Sjoe, maar dit is n mooi foon...is dit Oom s'n?" vra ek onskuldig.
"Ja, daai kaartmannetjie met sy los handjies by die selfoonwinkel het die ding aan my afgesmeer."
"Haai Oom...?"
"Ja hy verbeel hom hy weet alles maar van boer sal hy nooit iets weet nie."
Ek bekyk solank die foon van hoek tot kant.
"Waar's Deon, gaan hy rugby kyk.?"
"Ja Oom ek dink so hy sal nou-nou kom ...ek maak solank koffie en ons kyk of ons die foon kan verstaan." Kalm bly is al wat ek nou kan doen.

Oom Floors staan op, sy hele sesvoet lank en gaan staan op die stoep en stop sy pyp. Ek vee my vinger liggies oor die venstertjie van die slimfoon.
n Horlosie so groot soos die foon self verskyn.
"Oom dit is n minuut voor drie, hoe laat begin die rugby?"
"Sit aan, dis nou."
"Hier is die foon, ons kan later na dit kyk."
"Ek gaan hom stukkend bliksem..." se hy ewe skielik terwyl hy deurloop na die TV-kamer toe asof hy iets aftree.
"Oom die foon makeer niks, dit is splinternuut." kom ek op vir die slimfoon.
Hy verduidelik hoe hy probeer bel het maar niks kan hoor nie.
"Het Oom hom nie te styf teen Oom se oor gedruk nie, want dan raak mens aan die "screen" en dit verander..."
"Ek gaan hom stukkend bliksem, ek se jou."
Ek gaan sit die foon by hom neer en toe asof iemand dit vir my voorse se ek:"Nou bliksem hom stukkend." ek voel hoe die ongeduld wat een van my beste eienskappe is, vlak in my hart kom le.
Nou moet ek wegkom, dink ek, anders is hier moeilikheid.

Hulle kyk rugby en die voggies vloei, selfoon skoon vergete. Na die "game" verby is, val dit oom Floors by van die foon.
"Kan jy nie vir my kyk hoe werk die slimfoon nie, daai Mannetjie by die winkel het hom aan my afgesmeer...werk glo baie maklik."
Deon tel die foon op en bekyk hom, hy het so bietjie ondervinding van 'touch screen" en sit die foon aan.
"O, dis maklik Oom, Oom moet baie versigtig werk anders druk Oom op die verkeerde "icon" en dan doen hy n ander funksie as wat Oom soek."
"Icon se moer man, waar moet ek druk."
"Oom moet liggies vee..."
"Wag ek bel vir Pieter, Oom se Pieter, dat ons net sien of werk hy."
Deon bel vir Pieter en hulle gesels te lekker dan gee hy die foon vir Oom Floors.
Oom Floors vat die foontjie in sy groot hand en druk hom op sy oor... weg is Pieter.
"Oom moenie hom so hard teen Oom se oor druk nie, hy moenie Oom se oor"touch" nie. Kyk Oom sien Oom hierdie wat hier staan op die "screen"? druk liggies ...ag nee nou het hy aan Oom se neus ge-touch en verander!"
So sukkel hulle voort vir meer as n uur, die een bier na die ander want ons gaan nou braai. Later weet Deon ook nie meer hoe die foon werk nie en hulle vergeet skoon van dit...die vleisbraai is te lekker so onder die oop hemel waar daar darem n paar sterre sigbaar is.

Die volgende oggend loop ek Oom Floors raak in die dorp. Hy se sommer dadelik hy het daai foon onder die mannetjie se neus gaan indruk, die ding is buite orde. My mond val stilletjies oop: "Maar...dit is dan n kontrakfoon, hulle sal hom nie terugvat nie..."
"Hy sal of ek maak van hom n kontrak..." Oom Floors stap weg en ek kyk hom stil verbaas agterna.