Maandag 08 Februarie 2010

ONDERBOS OP VERSOEK 8

Na die samesprekings met die koning en ander boere is dit lekker om die deur van my kamer oop te stoot, die skemer en koeligheid in die kamer met sy klip vloer laat my ontspan, ek gaan sit op my bed en trek my skoene uit, terwyl ek daarmee besig is val 'n skaduwee deur die deuropening... Met my skoene in my hand staan ek op, dit flits deur my brein dalk is dit 'n skelm, gereed om op te tree maar in verbasing sit ek die skoene neer en stap nader.

"Hoe op aarde het Pa so gou hier gekom, dit is nogal 'n entjie?" Dit is nogsteeds vreemd om met hom te praat. Hy lyk heelwat ouer as wat ek hom geken het maar beter as toe ek hom 'n paar uur vroeer gesien het, sy been is mank en hy gebruik die kierie om op te leun. Ons gaan soek koffie en iets te ete in die kombuis, nadat meneer Bann gaan slaap het en die huis stil geraak het, het ons twee nog baie lank gesels. Ek het hom vertel hoe dit by die huis gaan en die toestand waarin alles is, hoe alles agteruit gegaan het en dat dit elke dag net 'n wonderwerk is as jy weer wakker word. Ook dat my moeder 'n paar jaar gelede oorlede is en dat sy nooit op gehou het om na hom te soek nie. Dan vertel hy my van sy lewe hier en hoe wonderlik dit was. Eintlik so eenvoudig en rustig. "Is dit nie dalk die Hemel die nie?" My pa lag en se nee ek kan jou verseker dit is nie.

Dit het ons op die onderwerp gebring van my werk. Hy het breedvoerig vir my verduidelik dat ek eintlik 'n baie belangrike pos hier beklee en dat hulle baie afhanklik is van so iemand soos ek en wat hy vir hulle was. Ek sal moet uitvoere doen na ander lande en dit is nie lande soos die nie, dit is groter lande van die wereld waarvandaan ons kom. Dit is die rede hoekom hulle iemand van die 'anderkant' nodig het want hulle kan nie die kontrakte kry nie. Nie een van hulle kan waag om daarheen oor te gaan nie hulle sal verouder binne 'n uur na so oud dat hulle nie die werk kan doen nie. Ek skuif rond en skink vir ons elkeen wyn uit 'n kraffie. Dadelik weet my pa presies watter boer se wyn dit is.

Nadat ons ure om gesels het begin dinge vir my duidelik word en ek begin berus. Hy het my belowe om die volgende paar dae saam met my te gaan en te sorg dat ek alles onder die knie kry want hierdie mense kan dit nie bekostig om van hul produkte te verloor nie. Hy verduidelik dat daar nog baie meer dinge is waaraan ons aandag sal gee maar hy is heeltemal seker ek sal dit kan hanteer. "Hoekom is Pa se naam hier Odare, het dit enige betekenis?" vra ek toe ons uitstap in die koeligheid van die nag. "Weet jy hulle sal vir jou ook nog in hulle taal 'n naam kry, dit is net sodat hulle dit maklik kan uitspreek en dit beteken natuurlik maar iets vir hulle."
'Pa verduidelik nog net dit, hoe kry hulle dit reg om my te verstaan, ek praat dan my taal wat vir hulle onbekend is?" My pa lag :"Hulle besit die vermoe om enige taal te verstaan, sien dit maar as 'n gawe, daar sonder sou hulle nie kon bestaan nie..."
Ek kry die gevoel daar is nog baie wat ek nie weet nie.

"Gaan Pa terug?" vra ek voor ons groet. "Nee, nie nou-al nie, ons sal later daaroor praat, jy moet rustig slaap..." Hy verdwyn net soos hy gekom het en ek kan nie help om te wonder of ek hom weer sal sien nie. Gelukkig is baie dinge nou vir my duidelik.

In my kamer sit die valkie op een poot op sy stok, wat ook sommer net daar gereed was toe ek van die koning terugkom. Dit is asof hierdie 'n geoliede masjien is en sonder hakplekke pas die ratte in mekaar.