Sondag 25 Maart 2012

Vrywillig

Hierdie wil ek graag vir julle vertel... ons het weer Saterdag in daardie groot park, Fagan park, gaan stap, 'n bietjie verder as laas en op ou end deur 'n stukkie bos geloop waar die bome so hoog is ek wil omval as ek opkyk om te sien waar is hul toppe. Die stukkie pad deur die bos is ook nie geteer soos al die ander nie. Die bome se bas het al 'n digte mat onder hul gevorm en varings floreer in die medium!

Met die terugkom was ons die ongenooide gaste van 'n Chinese troue wat daar in die park gehou is. 'n Pragtige boog is opgesit vir die bruid om deur te stap, ons het verby gestap en net alles bewonder.

Dit is 'n pragtige plek om te trou! Daar is damme met waterlelies en stroompies waaroor 'n houtbruggie gebou is. Die park is 53 hektaar groot so jy kan baie gaste nooi!. Met die terugry het ons weer oor die bergpas gery met die baie skerp draaie, dit is ongelooflik skerp en die bome groei so dig dat die pad donker van die skaduwees is. Almal ry gelukkig baie stadig...

Daardie aand besluit ek om verder in my boek van Victor Frankl te lees en ek lees toe weer hierdie stukkie. Met sy aankoms in die konsentrasie kamp moes hul van al hul besittings ontslae raak, dit op 'n hoop gooi om uitgebrand te word, selfs hul klere. Hy het in sy jas die manuskrip gehad van sy navorsing oor die psige van die mens want hy was 'n psigiater. Dit was sy lewensideaal en hy wou die manuskrip bewaar ten alle koste. Wel hy was gedwing om dit op die hoop te gooi en dit is verbrand. Daarna moes hy die vodde van 'n dooie gevangene aantrek! Na 'n rukkie het hy in die binnesak van die jas 'n enkele bladsy ontdek wat geskeur is uit die Gebedeboek van die Jode. hy het sy manuskrip ingeruil vir 'n enkele bladsy uit 'n gebedeboek! Sjema Jisrael. Hierdie bladsy het later vir hom baie belangrik geword en een van sy kosbare besittings geword.

Ek vertel hierdie vir julle omdat ons wandel deur die lewe of deur die natuur dikwels van ons kosbaarste oomblikke kan wees. Hierdie park en tuine waarvan ek so vertel word deur vrywilligers instand gehou. Niemand word betaal om daar te werk nie! Wanneer jy bereid is om daar te werk gaan jy en doen jou werk op sekere tye, daar is selfs 'n kruietuin en groente tuin wat deur die mense self bewerk en instand gehou word.

Frankl het daaraan gedink, dit was die wil van God dat hy eerder sy kennis moet uitleef tussen die gevangenis as om dit op papier neer te skryf. Hy het 'n keuse gehad om moed op te gee of om na God se wil te kyk.

As jy vandag teneergedruk voel en nie kans sien om aan te gaan nie stap uit na buite, pluk 'n blom of blaar en kyk mooi daarna, kyk na die lyntjies en are op die blaar en weet die God wat jy aanbid is groter as jou probleme. Moenie moed verloor nie, staan op en doen jou werk, gaan werk vrywillig in God se tuin... (mense om jou)

Hy is die Skepper van die heelal, die grootste van alles, Hy leef en jy saam met Hom, jou lewe is Sy grootste geskenk aan jou! Leef met dankbaarheid en vrywillig!