Donderdag 10 Mei 2018

Ligvoets deur die lewe

om bo te kom is n stywe klim

ons beweeg ligvoets op die smal pad

doudruppels glinster

in eerste lig

'n nuwe dag

nuut gebore

ligter trap

vryer stap

die steiltes oor

uit 'n skeur beur'n blom-gelag

ons neem die korter pad

slinger teen berghang uit

niks kan mooier wees as

die sagte lig van gods genade

wat speel oor land en see

baie vêr lê die stad

'n grommende dier

leweloos glinster dak en paal

ons is vry om te lag en te speel

niemand kan ons hoor

want bo is dit oop en asemrowend mooi

wanneer God jou insluit

in Sy alomteenwoordige oneindigheid

stap ons hand aan hand

uit genade gered

deur krag omring

om te staan in God se lig

met ligter tred stap ons

ligvoets die lewe in!



Vrydag 19 Januarie 2018

Vorentoe



Japie staan met sy hoed op sy bors , ek weet sommer dadelik hier kom nou weer n ding. Van vroeg af het hy op hierdie been gestaan, dan op daardie een. Hy bly le op die graaf en dit maak altyd Pa se geduld klaar.

"Japie, wat is fout vanmore...jy staan dan so en dan so?" Pa beduide hoe ou Japie rondstaan
Eintlik weet Pa maar hy wil dit uit Japie se eie mond hoor.
"Nee as die Seur tyd het om te luister, sal ek se..."

Pa gluur hom aan oor sy bril en ek ken vir Pa as hy so kyk is hy besig om die laaste vers in die Bybel te lees waar staan , jy moet geduld he.
"Praat, Japie ons het baie werk, ek het nie tyd om hier rond te hang en so en so te staan nie."
"My groot Meneer, sien die ding staan so..." Japie maak keel skoon en versit sy voet waarop hy leun.

Pa, sug en stop sy pyp met meer dringendheid as vroeer.
"Japie, ek en jy kom n lang pad, van voor daar nog lande hier geploeg was, wat is jou storie, die son word warm".
Pa trek aan sy pyp en ek verbeel my daar gloei iets.
" Meneer, die ding staan so." Japie versit weer.
"Kom tot die punt Japie of ek ry vanmore sonder jou lande toe."
" Meneer, kan maar ry want sien ek wil vorentoe gaan."
"Vorentoe?" Pa gluur nou nog meer.
" Ja, Meneer, sien mos vorentoe soos vorentoe."
"Japie, staan opsy dat ek kan ry, waar is vorentoe. Ons almal in hierdie land wil vorentoe maar kom nooit nerens . Wys my daai plek van vorentoe en ek gaan laai jou persoonlik daar af. Moet net nie dink jy kom weer agtertoe nie. Dan bly jy daar."
Pa sit al agter die stuur en Japie weet nou moet hy gou praat of Pa ry hom toe onder die stof.
"Ek wil loop Meneer, ek wil bietjie vorentoe loop".
Pa kyk verbaas geirreteerd na Japie.
"Maar my magtig, loop dan en jy kom nie more weer hier aangesleep met n nuwe vrou en string kleintjies nie. Ek sluit daai hek, het jy gehoor." Pa beduie na die hek teen die dorpspad.
Pa ry weg en gooi ou Japie met stof waaruit hy proesend ontsnap.
Verbeel ek my of trap ou Japie hoer as ander dae...?
Ek vra ewe bedees, wat gaan van Mieta word?
"Nee sy't al gister geloop..." Hy beduie maar ek kyk nie regtig nie want wat gaan ma nou doen sonder Mieta?.