Vrydag 20 November 2015

UIT DIE KERKANTOOR 1

Dit reen in die oggend so erg dat ek nie die pad voor my kan sien nie. Versigtig ry ek die laaste honderd kilometer tot op die klein plattelandse dorpie suid van Bloemfontein. Net voor ek oor die laaste bult ry hou die reen skielik op en anderkant die redelik hoe bult is dit kurkdroog. Dit lyk asof dit voor 1933 laas daar gereen het. Ek trek my asem skerp in toe ek skape langs die pad sien saam bondel, daar is niks om te eet nie, waarvan lewe hulle.
In die nuwe dorp waar ek myself nou gaan vestig, soek ek n rukkie na die huis waar ek sal tuisgaan. Julle sien die ding werk so, ek het die advertensie in die naweekkoerant gesien dat die plaaslike kerk n dame soek om kantoorwerk te doen. Omdat ek jare lank al kantoorwerk doen vir n verpakkingsfirma in die Boland en baie moeg is vir die reen in die koue winter het ek besluit hierdie is die werk vir my.
Sonder veel navorsing, tipies soos ek is, neem ek die werk aan, pak my tasse en daar gaan ek. Hier staan ek nou voor die toe deur op die rooi stoep en klop aan die groen geverfde deur al vir die derde keer. Niemand maak oop nie. Ek wag n rukkie en klop weer. Dan stadig en versigtig word die kantgordyn langs die voordeur gelig en n baie ou tannetjie loer uit. Ek groet en waai vir haar, sy maak die voordeur oop en stadig trek sy die deur op n skrefie.

"Hallo, Tannie ek het n kamer hier bespreek want ek het die pos by die kerkkantoor aanvaar." Rustig wag ek.
"O ja, Dominee het my gese, nou kom dan maar in." Ek skuif verby haar die donker voorhuis binne. Die koeligheid herinner my aan my ouma se huis. Dik swaar gordyne en bal- en- klou meubels.
Ek gaan sit op die punt van n stoel en bekyk die ou portrette en kaggel in die een hoek.
"Wag ek gaan wys jou waar is jou kamer, jy is seker moeg."
Ek is dankbaar om weg te kom uit die sitkamer want die mense in die portrette lyk kwaai en wreed.
Ons stap die bree gang af, houtvloere wat kraak en nog portrette in ovaal rame gluur my aan.
Die kamer verras my, n buitedeur wat uitloop in die tuin, eie badkamer en groot dubbelbed maak op vir die res van die huis. Nadat die tannie uit is, gaan sit ek op die bed en voel hoe ek wegsak. Hier gaan ek lekker slaap dink ek.

Die Maandagoggend vroeg is ek op my pos, daar is baie werk want daar was lanklaas iemand om die werk te doen.
Sommer met die intrapslag ontmoet ek van die kerkraadslede en almal lyk stug en nors.n Vrou staan eenkant met n bordjie eetgoed in haar hand. Die dominee se kop blink in die oggendlig en op tipies hoogdrawende wyse skud hy hand en wens my welkom.

Dadelik word ek gewys hoe werk die afrolmasjien en hy vertel my dat ek asseblief nog hierdie week die kerkalmanak moet druk want dit is tyd dat die almanak uitgedeel moet word aan die lidmate.
Ek het mos al baie afrolwerk gedoen. Begin sommer dadelik my goed regkry en sit die voorbeeld van die almanak reg neer.
Omdat dit maar nie n groot gemeente is nie, kry ek darem voor toemaaktyd klaar en sit die hopies netjies neer. Maand by maand... net toe ek omdraai en selfvoldaan na my handewerk kyk vang iets my oog. Waars die lyne!

Ek kyk en ek kyk maar die lyne is weg, alles is klaar gedruk maar die lyne op elke bladsy wat die datums in blokkies
omlyn, is weg, ek snak na my asem! Wat gaan ek nou doen. Die dominee het uitdruklik gese dat ek doodseker moet maak want niks kan oorgedruk word nie, daar is nie geld om te mors nie. Ek oorweeg alles, sal ek nuwe papier gaan koop en dit skelmpies oordruk, sal ek die hele nag deurwerk en die lyne met die hand intrek, of sal ek dit net los en maak of ek dit nie agtergekom het nie.
Daardie nag slaap ek bitter min, vroeg die volgende oggend stap ek kantoor toe en loop die hoof ouderling raak. Op die ingewing van die oomblik besluit ek om dit vir hom te wys, hy lyk darem nie te kwaai nie. Ek nooi hom kantoor toe en wys
hom summier die ramp. Hy het daarna gekyk en gekyk en toe half uit die veld geslaan omgedraai en na my gekyk: " Wat is fout?" vra hy verbaas.
"Daar is nie lyne nie..." se ek ook verbaas dat hy dit nie opmerk nie.
"O gaats, nou wat gaan ons nou doen...?"
Ek gee hom al my opsies en maak asof dit nie so erg is nie.
Hy het die hele spulletjie so gekyk en toe se hy: " Kinta, moenie vir jou verder bekommer nie, ek sal eerskomende Sondag met die gemeente praat."
"Maar...Oom, ek sal nuwe papier gaan koop."
"Nee jy doen niks van die aard nie...los dit vir my." Hy is daar weg met n skelm laggie.

Voor ek nog vir my kan koffie maak, staan daar n vrou voor my. Sy lyk net soos al die ander mense, streng.
Ek groet vriendelik. Sy val met die deur in die huis.
"Ons wil graag vir jou n verwelkomingspartytjie reel maar sal jy asseblief n bordjie sout en n bordjie soet maak. Dit sal nou eerskomende Sondag na kerk gehou word."
Ek kyk haar agterna, eetgoed vir my eie verwelkoming!
Die Sondagoggend trippel ek rond van senuagtigheid. Ek trek glads sykouse aan en my beste rok. My hare doen ek self en grimering word swaarder aangesit want ek bewe so ek kry nie die lyntjies netjies getrek nie.
Voor die diens staan die hoofouderling op en se dat hy iets op die hart het, dit pla hom nou al n geruime tyd en hierdie voel hy is die regte oomblik om daaroor te praat.

Hy maak keelskoon en begin, wat hy daarna se het my amper van my stoel laat val.
"Broers en susters, soos julle almal weet is dit n besonderse droe jaar wat ons het, die kleinvee kry swaar, die water is min en so die geld ook. Net so kry die kerk ook swaar, ons kry nie alles meer gedoen soos altyd nie, die geld is skaars.
Dominee kry maar n karige salaris..."
Met die loer dominee so oor die kant van die preekstoel waar hy in die stoel sit.
"Ons doen ons bes, ons maak somme en somme maar niks klop meer nie. Ons het vroeer die jaar n beroep gedoen dat die gemeente tog meer gereeld hul bydraes moet gee maar dit het skynbaar op dowe ore geval. Nou het ons besluit om dinge wat ons vroeer gegee het aan die gemeente uit te laat om sodoende die begroting te laat klop. Die Kerkalmanakke is reeds gedruk maar soos julle sal sien is die lyne tussen die datums uitgelaat aangesien daar nie genoeg geld is vir nuwe ink nie. Die printersink is baie duur en om al die bladsye te kon druk moes ons maar die lyne uitlaat.Indien ons in die nuwe jaar meer geld sal inkry sal daar weer lyne op die almanakke verskyn."
Hiermee gaan sit hy en ek val byna van my stoel af, ek weet nie waar om my kop in te druk nie, ek meet die afstand na die deur om uit te glip.

Dominee maak keelskoon en kyk na die hoofouderling maar besluit om niks te se nie.
Ons drink tee en eet heerlik van die eetgoed. Ek help om op te ruim en daar steek die eetgoedvrou weer voor my vas en se:
"Ons het volgende Sondag ons kerssangdiens sal jy asseblief weer eetgoed kan bring?"
Ek stap huistoe en tel die dae wat ek noual op hierdie dorpie is en hoeveel bordjies eetgoed ek al moes maak.

Eintlik moet ek vir die hoofoudeling n koek bak en net daar besluit ek om dit te doen, hy verdien n koek om so n briljante storie op te maak.
Die almanakke is uitgegee met geen kommentaar wat terugontvang is nie. Daardie Sondag word daar baie meer kollekte ingegooi as voorheen.

Ek bak die koek en versier dit na die beste van my vermoe. Nadat ek dit gaan aflewer het weet ek dat ek nuwe vriende gemaak het, vriende waarop ek kan staatmaak.

Die volgende oggend met oopsluittyd staan sy weer daar en sowaar alweer n bordjie eetgoed word gevra om dominee te bedank vir sy harde werk die jaar. Ek beluit toe net daar dat ek haar gaan noem"eetgoedvrou" ek ken nie haar naam nie, sy is nooit aan my voorgestel nie, maar die een bordjie eetgoed na die ander moet ek maak! Dalk was ek te oorbluf dat ek nooit haar naam gehoor het nie.
Ek kry die briljante idee om rolle blaardeeg aan te koop by die plaaslike winkel en as die "eetgoedvrou" vra is ek so te se gereed vir haar.

Skrywer: Nauda van Rensburg

3 opmerkings:

  1. Bie oulik Nauda. Nou voel ek sommer baie beter oor my blaps. hou van die Alwera.

    AntwoordVee uit
  2. Dis baie oulik mamma! Wat 'n briljante storielyn :) Ek het dit baie geniet.

    AntwoordVee uit
  3. Baie oulik en snaaks. Ek wonder watse ander dinge op daai dorpie kan gebeur......

    AntwoordVee uit