Woensdag 13 Januarie 2016

DIE LIEWE BORDJIE EETGOED

Dit is warm, die sweet tap ons af.  Die tannie reg voor my skuif rond en vroetel
 met haar sakdoek. Sy het n appelkoos pakkie aan en bypassende handsakkie.
 Ek kyk versigtig die mense deur. Ouer mense, ek sien nie een van my ouderdom of jonger nie.  Dit is my heel eerste oggenddiens wat ek op die nuwe dorp bywoon. Ek het gister middag hier aangekom.

Ongelukkig is dit Januarie en om hierdie tyd van die jaar jou sit te kry op n klein plattelandse dorpie in die karoo, is maar moeilik. Almal kry warm en met die kwik naby die vyftigs voel ons pap en uitgemergel. Mevrou Appelkoos bly omkyk, dan hou sy haar hand bak en fluister iets van ...vra. Dalk wil sy my iets vra, besluit ek.  Dominee maak gou klaar en ons stap uit in die skreeu warm son.

Almal verdwyn binne minute en ek staan alleen daar voor die kerkgebou.
Ek skrik toe iemand agter my praat.
Netjies in haar appelkoos pakkie met  handsakkie staan sy voor my,  effens breed om die heupe,  dink ek,  maar groet vriendelik terug.  Min het ek geweet hoeveel keer sy nog so voor my sal staan.
Baie gedagtes gaan deur my kop, die kanselkleed in groot goue letters, die dominee op die kansel en die mense voor my in die kerk.  Waaroor wil sy met my praat, sy het gese sy wil my iets vra.

Ek stel myself voor en las sommer by dat ek die nuwe skooljuffrou is.  Sy is aangenaam verras en val sommer met die deur in die huis of moet ek se met n bordjie eetgoed binne in my kombuis. Sal ek dan tog so gaaf wees om vir volgende Sondagoggend n bordjie soet en n bordjie sout kerk toe te bring, want ons drink tee na die diens.

Dit is gou,  dink ek,  terwyl ek aanstap na my warm gebakte motortjie n entjie verder.
Die skoolweek is rof en ek vergeet heeltemal van die eetgoed.
Moeg sak ek Saterdagaand op my bed neer na n vol dag in die son, ons het atletiekbyeenkoms gehad. Ek dink aan more- oggend se kerk en asof iemand my n hou gee onthou ek van die eetgoed. Hoe laat is dit... die kafee is seker al toe!
Ek stap na my gasvrou toe, want ek huur nog n kamer by die gastehuis.
Nadat ek toestemming gevra het om die kombuis te gebruik, stap ek half sleepvoet daarheen en dink wat bak ek sonder bestandele, ek sal moet van die gastehuis se bestandele gebruik. Gelukkig stap my gasvrou saam met my en ek vertel haar wat die probleem is. Sy stel my gerus dat ek niks hoef te bak nie, sy het oorgenoeg gebak en sal van dit op n aparte bordjie pak wat ek kan saamneem.
Ek slaak n sug van verligting en na n lekker stort,  kruip ek vroeg in.

So het ek deel geword van n gemeenskap waar eetgoed by elke tee geniet is.  Die wat die eetgoed maak,  eet dit gewoonlik self ook.  Ons drink tee, hou bazaar, straatverkopings, bidure, troues, begrafnisse en selfs kinders doop ook, alles met n bordjie sout en soet. Om nie eers te praat van die okkasie met ou dominee se afskeid en dan weer die nuwe jong dominee se verwelkoming nie. Ek moet se, ek het self die nuwe dominee se verwelkoming geniet... hy is voorwaar iets vir die oog en boonop vars uit die Kweekskool.

Tannie Gastehuis het nie elke keer vir my ingestaan nie, later moes ek self in spring en my deel bydra.  Ek wonder stil of dit kan afgaan as deel van my tiende...die eetgoed elke kort-kort.

Dan kom die eksamen,  die kinders kry ekstraklasse,  waarmee ek ook moet help,  ek raak al hoe besiger en vat amper nie grond nie.  Een middag stap ek sesuur eers by die gastehuis in, moedeloos gedra aan die skrifte wat gemerk moet word.  Ek laat gly dit af op my bed en dink die hele tyd aan die bordjie eetgoed wat ek more -oggend vroeg by die skool moet he. Wat gaan ek tog maak?

Nadat ek geeet het weet ek nogsteeds nie wat om te maak nie, alles is al toe op die dorp, so ek kan niks koop nie. Sal ek nou maar weer die tannie vra... ? Op daardie oomblik kom Tannie Gastehuis die vertrek binne.
Net soos ek die skrifte laat afgly het op my bed, so laat gly ek die woorde soos n refrein uit my mond uit.   Sy kyk my n oomblik verstom aan en besef toe eers wat ek vir haar se... ek moet more-oggend vroeg n bordjie eetgoed by die skool he en dit moenie skons, muffins, broodjies of enige gewone eetding wees nie,  dit moet iets besonders wees want daar is baie belangrike gaste.  Ook nie koesisters nie, want die het hulle al gekry, ook nie poffertjies nie en asseblief tog net nie soutbeskuitjies opgesmeer nie.  Ek was lus om te vra, bly daar nog iets oor, dalk moet ek sommer n bordjie beskuit daar  neersit.

 Sy haal n rol blaardeeg uit die vrieskas en sit dit op die tafel neer.  Ek kyk vraend na haar.  In haar vriendelike moederlike stem se sy ek moet n lekker stort gaan neem en dan sal ons die eetgoed aanmekaar slaan.  n Halfuur later is ek terug, skoongewas en reg vir die uitdaging.

By die skoongeskropte kombuistafel drink ons koffie, eet n beskuitjie ( natuurlik haar eie ) en rol later die deeg op dieselfde tafel uit.
Ons maak soutwieletjies met Marmite en kaas. Heerlik!
Ek verstom my hoe vinnig dit is en dit lyk so mooi, dit lyk asof ons baie moeite gedoen het. Hierdie een moet ek onthou,  dink ek toe ek later die duvet tot teen my ken optrek.

Die volgende oggend brand die son al voor sewe.  Ek pak die eetgoed agter in die motor sodat dit veilig kan wees deur die slagate en slegte grondpad skool toe.  Daarna wil ek gou weer in hardloop om my skooltas en boeke te kry.  Ek is laat suis dit deur my kop.  By die motor soek ek na my sleutels...veilig hang hulle binne in die aansitter en die motor is gesluit,  dit is n ou motor soos julle kan aflei.
Die son brand ... ek hardloop op en af...wat nou!
Dit is ver skooltoe, my handsak met selfoon le rustig op die sitplek.  Tannie Gastehuis is vroeg weg stad toe. Ek voel hoe stoot die ongeduld in my op en onthou toe van n vriendin wat my dalk kan help, maar om haar te bel moet ek by my handsak uitkom.   Ek voel asof ek kan skree!  n Draad...dink ek...waar kry ek n stewige stuk draad!  Ek hardloop heen-en-weer stoep toe, in die gastehuis in, kombuis toe, slaapkamer en toe weer terug motor toe.  Met die laaste uitkom by die voordeur trek ek die swaar houtdeur agter my toe soos dit n goed opgevoede dame betaam.  Nadat ek met n draadhanger vir hoe lank gesukkel het, wil ek weer inhardloop om dalk iets anders te probeer...die deur is gesluit, natuurlik sluit hy as jy hom toetrek. Daar staan ek,  die kosbare minute tik verby.
Na n groot gesukkel, chaos, fiasko, ongelukstoneel of wat sal ek dit noem?  Wil ek moed opgee en gaan sit op die randsteen van die sypaadjie.  n Meisie sit nie so nie, hoor ek my ma se stem in my kop.
 Die volgende paar minute voel soos n ewigheid maar dan kom iets of iemand tot my redding... die polisie ry roekeloos om die hoek en mis my motor met milimeters.  Hulle stop en klim uit en beduie dat ek nie daar mag parkeer nie.  Ek verduidelik en  binne minute is die motor oop.

 So in die ry bel ek my vriendin net om van my fiasko te vertel en om haar te vra of sy asseblief net sal toesien dat die leerlinge in my klas hulle gedra, sy hou saam met my skool ... ek verloor beheer oor die motor en kom teen n grondwal tot stilstand.  Al vier bande pap.  Nou het ek net een opsie, bel die skoolhoof.
Die sekretaresse gee antwoord, toe sy hoor dit is ek skree sy my ore doof, ek kry nie n woord in nie.
Meneer wil ontplof, die inspekteurs is al daar en hulle soek die eetgoed wat ek veronderstel was om al sewe dertig daar te he!?  My klas is chaos, die kinders hang by die vensters uit en ... en ...en.
Ek druk die foon in haar oor dood, net daar neem ek n besluit...dit is voorwaar die laaste bordjie eetgoed wat ek sal maak!
Dit stop nou net hier!

Geskryf deur: Nauda van Rensburg




die lewe is n lied

ek sing vandag n nuwe lied
tot eer van my Skepper
Hy het my geskape
presies soos Hy dit wou
die lewe se lied weergalm
ek
sing dit met n suiwer stem
elke noot ken sy plek
hoog en laag
elke nuwe dag
n nuwe versie nuut geskryf
ek speel dit met n panfluit
die mooiste
skoonste
suiwerste note
soos God dit self geskryf het
ek stap aan deur die skemer-
aand tot in die helder lig
geskryf