Maandag 18 Januarie 2010

ONDERBOS OP VERSOEK 3

Stadig begin ek hulle deurkyk en maak 'n opsomming van wat hier voor my besig is om te gebeur. Nie een van die kort stewige mannetjies is aanmy bekend nie. Dan sonder enige vooraf kug of handopsteek praat die een regs voor. "Ons is almal boere en ons soek 'n verteenwoordiger om vir ons saak by die koning in te tree. Die barbier, Bann, het jou hierheen laat kom want hy is van mening dat jy die beste kandidaat vir die soort werk is." Ek sukkel om die aksent onder die knie te kry en wonder of ek reg gehoor het. Ek moet na die koning toe gaan...

Ek staan senuagtig rond en trap op die barbier se toon. Vir wat klim hy ook so op my? Gelukkig skuif hy bietjie weg. Ek maak keel skoon en begin praat, asof 'n towerspreuk oor my uitgespreek is, weet ek wat om te se en die woorde vloei soos harmoniese musiek uit my mond. Ek sluk en probeer stotter of diep asemhaal sodat ek onseker kan voorkom, want hoe beter ek vertoon hoe swakker is my kans om hier uit te kom. Alles verniet ek lyk vir hulle na die regte man en word dan gegryp en op een van die sterkste manne se skouers na die wagtende koets gedra. Ek wil skree ... help! of meneer Bann help my... sonder seremonie dra hulle my soos 'n wafferse held en sit my veilig op die trap van die koets neer. Ek draai om en kyk na die groepie... Sonder enige vorm van teestribbeling groet ek ewe galant en gaan sit in die koets.

In n koets! Wie sal dit glo... ek hoop die droom hou vir ewig. Die koets dateer uit 'n vorige era, pragtig opgepas. Die houtwerk is blink gepoleer en dan die sitplek handgemaak van egte leer, die een of ander dier se vel, saggelooi en gebrei tot die volmaakte sitplekoortreksel. Ongelooflik uniek. Ek voel gevlei en baie belangrik. Die koets se deur swaai toe agter my. Alleen sit ek daar met net die koetsier en die twee blink swart ponies. die ponies is rond vet en blink maar net s kort op hul bene soos die mense.

Die minute wat daarop volg begin ek my bekommer oor my ontmoeting met die sogenaamde koning. Ek wonder... koning van watter koningkryk, hoe moet ek hom aanspreek en moet ek buig of kniel of net 'n hoflike kopknik. Hoekom het meneer die Barbier nie saamgekom nie. Nou vandat ek hom die nodigste het. Ek vryf oor my gladgeskeerde gesig terwyl ek aan hom dink.

Ons hou met 'n swierige draai voor die paleishekke stil. Wonderlike mooi hekke, met die fynste detail gemaak en afgewerk tot n perfekte meesterwerk, wat deur twee wagte opgepas word. Nie een van hulle is gewapen nie. Net so styf en formeel soos ander wagte maak hulle die hekke oop en ons ry veilig deur, dan kom ons voor 'n groot houtdeur met koperbeslag. Sjoe, dink ek wat het my te beurt geval. Na 'n klein verposing swaai die groot soliede houtdeure oop en ons ry deur. Ek sien uit die hoek van my oog die twee wagte wat weer dadelik die deure agter ons toegrendel. Die koets kom tot stilstand en soos 'n wafferse belangrike persoon bly ek sit totdat die koetsier vir my die deur oopmaak en galant buig, jy weet, soos in die outydse Franse Hugenotetyd. Ek klim uit en staan 'n sekonde op die trap om my omgewing waar te neem. Voor my is 'n kleiner houtdeur, baie dieselfde as die grote met koperbeslag. 'n Wag staan nader, buig effens in my rigting en wissel 'n paar woorde met die koetsier. Liewe land het hy my verwag want ek word galant begelei deur die houtdeur by 'n duisternis trappies op tot bo-op 'n wye blink glad gepoleerde stoep met fyn gedraaie gegote yster relings.

'n Persoon geklee soos 'n lakei ontmoet ons en vra dat ek hom sal verskoon, ek moet net so 'n wyle wag daar is 'n pragtige swaar stoel waarop ek kan sit. Die stoel is oorgetrek met duursame fluweel, diep rooi en heerlik gemaklik. Ek druk my lyf styf teen die stoel en wens ek kon langer daar sit... sonder om die koning te moet spreek. Kan jy dit glo dat ek tot op daardie oomblik nog geen benul gehad het waaroor ek die koning moes spreek nie. Ek het nie geweet wat die probleem nou eintlik behels en hoe ek dit moet hanteer nie.

Enkele minute gaan verby en toe swaai die glasdeur wat na binne lei oop...

VERVOLG

1 opmerking:

  1. Baie interessant en verrassend! Glad nie gedink dit gaan in die rigting gaan nie. Ek het soveel vrae wat ek hoop beantwoord gaan word. Kan nie wag vir die volgende uitgawe nie.

    AntwoordVee uit