Vrydag 15 Januarie 2010

ONDERBOS OP VERSOEK

Orals in my tuin is daar stompe waarop mens kan sit om asem te skep of net te luister na die natuur om jou. Soms in die vroee oggendure sal ek op so 'n stomp gaan sit en my eerste koppie tee drink sodat ek kan luister na die siel van my tuin. Ek sal doodstil sit en luister na die voels en hulle dophou want so vroeg kom besoek hulle baie graag die tuin omdat dit rustig is. Die eerste sonstrale val nog baie skuins en die tuin is nog verlate en daarom kan hulle ongestoord kan kos soek en kwetter.

Daar is egter nie net voels in my tuin nie... Een oggend het ek baie vroeg uitgestap en op 'n stomp aan die verste end van die tuin gaan sit, hier is die plantegroei baie ruig aangesien ek al die plante wat te veel raak vir die ander akkers oorskuif hierheen, om later 'n plan mee te maak. So gebeur dit dan dat hier 'n woeste onderbos ontstaan. (In die vorige stuk het ek verduidelik wat ek met ONDERBOS, bedoel).

Ek het skaars my sit gekry en die koppie tee begin drink toe ek 'n geritsel in hierdie onderbos hoor. My eerste gedagte was ...'n muis. Skrikkerig vir 'n muis soos ek is, wag ek tog geluidloos. Ek trek my bene op sodat my voete bo-op die stomp rus. Daar hoor ek dit weer, dit klink vreemd asof dit van baie ver kom maar tog ook naby. Eers wil my moed my begewe en ek besluit om liewer huis toe te gaan maar alles het daarna so vinnig gebeur dat ek heeltemal onkant gevang is... 'n Vreemde ligte gevoel verplaas my na iets bonatuurlik, ek voel anders, vreemd my bene is korter en ek bekyk myself, die klere hang soos sakke aan my wat op aarde het gebeur?

Onverwags bevind ek my in 'n dorp, wat met die eerste oogopslag lank terug bestaan het, outyds anders. Ek loop versigtig in die straat af waarin ek my bevind en kyk na die winkels met die klein venstertjies en die skoon geveede stoepgedeelte voor die deure. Ek dink aan jare gelede toe dit skynbaar in ons stede ook so gelyk het. Voor die een winkel gaan ek staan en kyk verwonderd na die rooi en wit pilaar voor die deur, 'n barbier. Wraggies nog soos van ouds. Ek besluit om hier in te stap want soos mense maar is kry jy hier al die nuus van die dorp. Dit is verbasend stil in die dorp, dink ek... seker omdat dit so vroeg is.

Binne wag daar die grootste verrasing op my. 'n Kort mannetjie staan voor die venster en kyk uit oor die straat. Ongesiens staan ek agter hom in die skadu van die vertrekkie. Dan sonder om om te draai vra hy met 'n baie vreemde aksent of hy my kan help. Ek skrik ... dan besef ek hy praat met my maar ek sukkel om 'n geluid uit te kry. Ek trap die oorgroot broekspype vas en slaan neer, my gesig binne-in n modderpoel. Ek staan verlee daar met my hande oopgesprei en beduie, dan sien ek myself in die venster van die barbierwinkel...ek kan nie my lag beteuel nie en bars uit van die lag. Ek is n klein kort mannetjie maar ek het'n reus se klere aan. Ek begin trek aan my arms maar dit bly so kort en dik.

"Ek het vir jou gewag, die winkel is lankal oop. Hoekom is jy so laat vir jou afspraak?" Watter afspraak praat hy van, ek het geen afspraak gemaak met iemand nie!


VERVOLG

2 opmerkings:

  1. Wow! Nog! Nog! Net genoeg spanning opgebou dat ek nie kan wag om verder te lees nie!

    AntwoordVee uit
  2. Mamma skryf baie baie goed, mamma weet hoe voel ek oor Afrikanse boeke; dit gryp my net nie, maar mamma s'n is so goed ek sal ophou my twilight boek lees, ek sal meer mamma se blog lees ek vergeet bietjie xx en ek het nou eers uitgfigure hoe ek kan comment...

    AntwoordVee uit