Sondag 24 Januarie 2010

ONDERBOS OP VERSOEK 6

Die oggendlug is koel en vars, ek neem diep teue daarvan en voel gou beter. Gelukkig kon ek eers was en skoon aantrek want ek het net so op die bed neergeval die vorige aand sonder om aan 'n seep te dink. Meneer Bann loop vinnig vooruit en mompel iets van daar le 'n lang dag voor ons het nie tyd om te mors nie. Voor in die oop stuk van die erf staan dieselfde koets as tevore, gereed. Ek voel opgewonde en bevoorreg, waar het ek nou-al ooit kon dink ek sou so behandel word.

Meneer Bann het net gewag totdat ons sit toe haal hy 'n fles uit die mandjie wat hy by sy voete neergesit het. Hy skink vir ons elkeen in piepklein koppies sterk koffie. Swart en bitter word dit my aangebied en ek drink klein slukkies daarvan, nog nooit het koffie my so wakker en vars laat voel nie. Miskien is dit omdat dit so bitter is. Iewers het ek al sulke erg bitter koffie gedrink... Starbucks-koffie smaak nogal naby aan dit, dink ek maar tog is daar 'n verskil... alles hier het 'n verskil, dink ek en glimlag afgetrokke.

Meneer Bann skuif reg en toe merk ek dit op, sy voete raak nie die vloer van die koets nie. Ek vra dit dadelik: "Was hierdie koets spesiaal vir my gebou?"
"Nee nie eintlik nie, jou pa het hom al die jare gebruik." Ek skuif ongemaklik rond en bekyk die koets noueers noukeurig. "Hoe goed het jy my pa geken? Weet jy dat hy verongeluk het, van 'n krans afgegly het en die lyk is nooit gekry nie."
"Ja ek weet, ek ken jou pa baie goed..." Ons begin praat oor die dag wat voorle, die werk wat vir my uitgesit is en ek probeer nogsteeds uit die situasie kom. Hoekom ek? Wil ek male sonder tal weet. Uiteindelik sug meneer Bann en se dat hy my weer na die koning toe sal laat gaan want hy kan dit nie beantwoord nie.

Voordat ons by die plase uitkom het meneer Bann die mandjie opgetel en tussen ons staangemaak. "Kom, ons eet eers iets, jy sal jou kragte nodig he." Hy lag saggies en dit is die eerste keer dat ek hom hoor lag. Die kos is heerlik vars, baie vars slaai en rou groente. Vrugte soos ek nog nooit gesien het nie.

Ons hou met 'n swierige draai stil, klim uit en die gesig wat my begroet laat my asem wegslaan. Ek bly staan op die trap van die koets en kom nie eers agter dat ek meneer Bann voorkeer nie. Hy maak na 'n paar minute keelskoon en dan besef ek... Hy lag weer saggies en ons klim uit. Ek bly uitkyk na die mooi toneel voor my en wil amper nie gesteur word nie.

Ek gee 'n paar tree verentoe en wag dat iets moet gebeur, dat iemand moet se jy droom of jy kyk na die rekenaarskerm of dat die ligte aangeskakel word na 'n wonderlike fliek. Tog dit gebeur nie. Ek en meneer Bann stap in die rigting van 'n man wat besig is om hooi op 'n wa te laai. Twee vosperde is voor die wa gespan. Meneer Bann vra hom waar die boer is en of ons maar kan rondkyk. Hy stel my voor en onmiddelik verander alles. Die man se naam is Essk, terwyl ek sy hand skud gaan die voordeur van die pragtige huisie oop en nog 'n man storm uit, daarna begin alles vinniger beweeg, bediendes hardloop rond, selfs die hoenders en ander werf diere is onrustig. Ek tree verlee terug en vryf my hand - wat het nou gebeur?

Blykbaar is die man, wat uit die huis gestorm het, die boer. Meneer Bann het agterna verduidelik dat dit die grootste skande is om 'n boer gedurende die dag in sy huis te betrap. Ek ontmoet hom en vind uit dat hy die leier boer is in die gemeenskap en dat ek baie nou met hom sal saamwerk in die toekoms. Ons word baie hoflik ingenooi en gaan sit om 'n tafel, eetkamertafel. Die tafel en stoel is vir my bene te klein en ek staan sommer. Daar word gepraat oor die boerdery, my werk en sommer lekker gekuier en staaltjies vertel. Dit is die tweede keer dat ek hoor iemand spreek meneer Bann aan as 'Oepels'.

Snaaks, dink ek, ek het nog nie ingestem om die werk te doen nie dit word algemeen aanvaar. Voordat ons verder ry gaan staan ek om alles waar te neem. 'n Tipiese outydse plaaswerf net op kleiner skaal en vir my baie mooi. Die landerye wat ek my so aan verstom het is onbeskryflik mooi, die gewasse wissel mekaar af, in presies ewe groot blokke is dit geplant. Ons het net op die regte tyd gekom want alles is of in blom of is gereed om geoes te word. Dan kyk ek na die huis, die dak is van dekgras gemaak, die mure duidelik van 'n tipe klei, oker geel klei wat verseker baie hard word.

Terwyl ons ry vra ek baie vrae en kry gelukkig eerlike antwoorde. "Hoekom noem hulle jou Oepels?" Meneer Bann lag en skuif bietjie verlee rond.
"Dit is 'n lang storie en dalk sal ek jou vertel maar nou moet ons die tyd benut om oor jou werk te gesels. Jy het seker nou-al 'n idee wat van jou verwag word. Jy moet as verteenwoordiger vir die boere optree en skakel met die koning. Dit sal jou plig wees om vir die boere hul produkte te gaan verkoop op die mark. Die grootste taak wat van jou verwag word is om dit uit te voer na ander lande...en om toesig te hou dat die boere wat nie so produktief is nie hul kant bring."

Ek voel lus om net so te sit en niks te se nie. Wat gaan nog alles van my verwag word...? Dan kyk ek uit by die venster en sien tussen twee heuwels deur die landerye wat in presiese blokke gespasieer is en hoe dit mekaar afwissel. Pragtig in verskillende kleure groen, pers, geel en oranje terwyl die son besig is om te sak en skaduwee soos 'n gordyn getrek word oor die wonder wereld.

Ek draai na Meneer Bann. "Goed, ek is in..."

1 opmerking:

  1. Ek begin al hoe meer van die storie hou. Mens weet nou meer hoe die wereld lyk en wonder nou waarheen die storie gaan lei.

    AntwoordVee uit