Maandag 21 Desember 2009

EK GLO

Reg voor my gebeur dit... n bos brand. Ek was nog altyd bang dit gebeur met my soos met Moses van die Bybel, en nou... hier staan ek te bang om te beweeg, te bang om asem te haal, die bos brand maar brand nie uit nie!


Ek probeer wegkom maar kan nie dit is asof iets my terughou. Ek probeer skree maar my stem is weg! Beangs kyk ek rond want hier moet ek wegkom, ek weet wat kom en ek... dit is nog nie tyd nie.

Dan die stem...TREK UIT JOU SKOENE WANT JY STAAN OP HEILIGE GROND... ek het dit geweet die dag as ek 'n bos sien wat brand gaan dit gebeur, gaan dieselfde stem met my praat. Ag Here tog net die dit nie! Ek buk af en maak die gespes van my sandale los, snaaks ek noem hierdie sandale altyd my Jerusalemplakkies. Die hele tyd hou ek die bos in die oog... ek voel die gloed van die vuur en probeer verder weg beweeg, maar iets hou my vas, weer probeer ek gil, my stem is weg.

Hulpeloos kyk ek op na die brandende bos. Ek gooi my hande in die lug en sak op my kniee. Here ek is jammer... Here ek is so jammer oor die kere dat ek U Naam ydelik gebruik het, die kere dat ek vuil taal gebruik het, die kere dat ek my kinders onnodig geslaan het of op my man geskree het, Here vergewe my al die kere wat ek nie lus was om uit U Woord te lees of Kerk toe te gaan nie...

Die sweet loop strome teen my slape af en meng met die trane, ek sien hoe dit op my hande val. Die bos brand onophoudelik. Here ek sal enigiets doen wat U vra...


Moet my net nie vra om tussen die plakkerskampe in te gaan of voor mense van U te getuig nie. Ja Here, ek sal enigiets doen wat U vra solank dit binne perke is. Die bos brand hoer en met meer agressie,vonke skiet uit en val voor my op die grond. Here, vergewe my asseblief die kere dat ek lelik was teenoor ander mense of ongeskik en asseblief vergewe my die kere dat ek nie wou werk by die kerkbazaar nie.


Ek sal enigiets doen wat U vra... nee Here ek kan nie al my huisgoed net so los en dan boonop tussen die vullis ingaan en... en tussen die armes U Woord gaan verkondig nie. Dit is darem te vergesog. Ek buk af om my skoene op te tel ... hulle is swaar soos klip ek kry dit nie beweeg nie. Ek huil harder en snik al my verkeerde dade uit, val weer op my kniee neer en smeek God om genade. Here ek is so jammer dat ek U al soveel kere verloen het en my rug gedraai het op wereldse sinnelose losbandighede.
Dit voel asof iemand my keel toedruk, ek kry nie asem nie. Dan skeur dit deur my siel en by my toegedrukte keel uit...HERE, EK GLO, EK GLO...


Goed Here, ek sal gaan maar net as U saam gaan want ek kan mos nie vrou alleen daar ingaan nie. Ek sal gaan Here en vir die kindertjies 'n kersboom reel, as ek net weet waar die geld vandaan sal kom, nogtans sal ek dit tenminste doen. Ek staan op van my kniee af, tel my sandale op en kyk na die bos, dit brand rustiger byna asof dit glimlag.

Ek draai om en sit versigtig my een voet voor die ander dan val iets my by...Here, se ek sonder om te dink, was daar regtig skape 'n donkie en 'n krip? Meteens is alles weer normaal, die bos brand wel nog... met die mooiste bloedrooi blomme wat ek nog gesien het. Ek kyk af na my voete, ek het dan my sandale aan. Op my hand kom sit 'n spierwit skoenlapper en ek weet...dit is alles waar.

Kersfees is waar, die skapies en donkie en Josef en Maria en die krip is alles waar.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking