Ek hou twee klippies in my hand en laat hulle oor die palm van my hand rond gly, die beweging van die klippies neem my gedagtes baie ver terug. Ek stap om die huis en gaan sit aan die kombuiskant op 'n stomp. Die grond is effens nat, dit moes laasnag gereen het.
Eintlik het ek vir baie jare hierdie dag gevrees, die dag van herontmoeting met ons huis waar ek en my gesin gebly het voordat alles verby was... Nooit het ek gedink dat dit so sou wees om weer hier te kom en al die ou paadjies van herinnering en nostalgie weer te loop, weer aan die mure te vat en weer op die groot stomp voor die kombuis te sit nie.
My hart ruk as ek die vervalle huis binnestap. Daar is geen dak meer nie, geen houtkaste is oor van dit wat my pa self gemaak het met die fyn detail van uitgekerfde panele, selfs die mooi kaggel wat hy eie handig gebou en afgewerk het is weg, net die sementvloer van die kaggel is nog daar. Hier het ons baie vuur gemaak en stories vertel, baie gelag en gehuil. Die slaapkamers, myne, Boeta en ma-hulle s'n is lee geraamtes met niks. Ek stap deur na die sitkamer, die voorhuis en kombuis. Al die geelhoutvloere wat weekliks gepolitoer en blink gevryf is, is uitgebreek. Ek trap versigtig oor die gate in die vloer en die trane verblind my en val op die palms van my hande.
Hier, net hier, het Pa gele en daar in die voorhuis Ma. Hulle is albei geskiet ten tye van die plaasaanval, ek en Boeta het weggekom, gevlug en in die stoor ons self gaan toesluit. Die laaste wat pa geskree het is... vlug.. Ek sal dit nooit vergeet nie... Die stroom bloed wat uit sy mond gesypel het en die woord... vlug. Boeta het my gegryp en deur die spens se klein venstertjie uitgedwing na buite, die ent na die stoor het soos kilometers gevoel. Binne die stoor het Boeta die slot toegedruk en ons het agter voersakke gaan skuil en gewag. Gewag op niks... niks het gebeur nie als het stil geword. Hulle was stil,Ma, Pa...hulle het ons nie geroep nie. Boeta, die oudste van ons twee het ons buurman gebel...hy het sy selfoon altyd in sy sak gehou. Oom Ben hulle was binne minute daar maar net die stof het bly hang...
Nou staan ek hier om afskeid te neem van Ma en Pa en ons stukkie aarde, hier in die Suiderland wat ons gedink het ons s'n is, vir altyd. Ek weet alles kom tot 'n einde, so het Pa en Ma met hul lewens betaal en staan nog net die murasie hier wat skreeu na die Hemel, want hulle het bloed aan hul hande.
Ek en Boeta het maar so in die koshuis en tussen neefs en niggies verder groot geword. Hy is al lankal weg. In Ierland het hy vir homself 'n toekoms gebou. Ek klou nog vas aan Pa en Ma se herinnering en die grafte in die kerkhof...tog neem ek ook vandag finaal afskeid.
In die deur van die vliegtuig draai ek om en waai...vir niemand spesiaal, sommer net vir my land Suid Afrika... Die twee klippies veilig in my hand.
Hierdie stukkie is so werlik dat ek sommer trane in my oë gekry en uitgeslaan van die hoendervleis.
AntwoordVee uitHierdie voel vir my soos deel van 'n groter storie...
ja dis mooi geskryf, ek is nou sommer hartseer.
AntwoordVee uit