Dinsdag 15 Desember 2009

Geringstes

Ek sien hul onverwags raak... 'n Bondeltjie dons - sag, wit-grys gevlek met bruin, onwerklik vreemd... ek het nog nooit sulke eendjies gesien nie. Hul waggel oor die groen gras in die rigting van die dam wat uitgestrek le vir kilometers ver. Met plat bekkies en plat voetjies skuifel hul en raas onverpoos voort, vriendelik gesellig bondel hulle by elke plassie en vroetel daarin asof hulle na iets soek. Hulle bly verrassend skoon al plas hulle in die modderige water rond.

Massiewe rykmanshuise troon bokant hulle uit en dit laat hul nog meer broos en alleen voorkom. Die huise omsoom die groot dam en wat 'n pragtige plek vir mense, maar hulle, ongekunsteld waggel voort om by die water te kom wat na regte aan hulle behoort het lank voor die mens hier begin bou en breek het. Dit laat my dink hoe broos en breekbaar ons natuur geword het in die hande van die manne met die geld en die met niks.

Sy gaan sit en maak sagte roepgeluidjies, wag dat die kleintjies onder haar inkruip om hulle so te beskerm teen die vreemdes. Hoe gaan ons die natuur beskerm teen die buitewereld wat niks ontsien solank hulle seevier. Lank het ek hulle dopgehou en my verkyk aan die moedertjie wat met alles in haar, haar kroos wil bevoordeel. Ek dink God het bedoel dat ons so moet omsien na die natuur, koesterend, beskermend en behouend.

Immers is dit 'n Godgewe geskenk aan die mens om te woon en werk in die wonder van die natuur wat Hy met soveel liefde beplan en verfyn het. Vir sommiges is dit vanselfsprekend vir ander 'n reg, vir ander 'n voorreg. Dit is dan ook hulle wat na aan God leef se plig om dit wat oor is van ons asemrowende planeet te koester en beskerm sodat hulle wat in afhanklikheid daarvan leef kan voortbestaan.

Ons besluit sommer self dat die gedeelte in die Woord wat se dat ons aan die geringstes moet goed doen, mense is, is dit nie dalk juis hulle wat net die natuur het, die geringstes nie. Het ons die reg om dit van hulle weg te neem?

Ek sien hoedat die eend weg waggel met die kleintjies 'n streep agter haar aan en vir my is hul my geringstes, verseker is dit elkeen se keuse.

Die vermoe wat jy besit het, sal niks wees nie teen die rykdom wat jy later sal besit nie. - Job

1 opmerking:

  1. baie oulik ek kan eintlik sommer die eendjies sien. Hulle is regtig so oulik en onskuldig!

    AntwoordVee uit