Dieselfde aand kom die gloed oor die horison aan. Weer spoel die kleurespel met malse oordaad oor die veld. Sou daar musiek wees dan beslis orrelspel met note wat uitborrel en oopsprei tot 'n wonderwerk soos geen mens kan skep nie. Hy staan verstom verbyster deur die majestieuse prag van die horison. Niks kan dit beskryf nie, geen skilder kan dit op doek vasle of enige digter dit besing nie.
Wolke eens wit, word goud, die horison bars oop in 'n kleurespel van brons, goud en karmosyn. Spatsels blou tussen die goudste goud, wolke bou op soos hoe geboue en kastele uit sprokies. 'n Sprokie onbeskryflik mooi. Miskien sal ons dit van nader beleef eendag...in die hemel. Net God kan so skilder...
Hy sien hoe die son sak en die kleurespel intenser word, die goud bars oop en sprei wyd in ligpers- blou en skakerings van pienk. Lank staan hy daar en kyk met verwondering na die simfonie van kleur. Iewers gaan dit reen want so 'n ongelooflike sonsondergang voorspel dat die wolke meer sal saampak en water gooi oor die dorre aarde.
'n Tarentaal skree en vlieg op. Hy draai om en stap terug huistoe, tevrede want hy het God gesien...
baie mooi! regtig 'n ongelooflike beskrywing. Dit voel asof ek daar is.
AntwoordVee uit