Vrydag 11 Desember 2009

na drie

Hy sien dit teen sy kantoormuur en weet onmiddelik... Deur sy hele lewe fasineer hierdie gebeurtenis hom en omsluier hom asof hy vir daardie paar minute op 'n afgelee plek of dalk op 'n ander planeet is. Soel, warm kleure omvou alles en beklemtoon elke voorwerp met uitstekende fyn uitgewerkte detail.

Hy stap na buite en beleef die gevoel asof hy werklik buite homself beweeg op 'n vreemde plek. Alles lyk vreemd asof hy dit vir die eerste keer raaksien. Die blomgranaat se rooi beur bo alles uit, nog nooit het hy dit so gesien nie, nog nooit het hy al ooit so 'n helder rooi granaat bloeisel gesien nie. Hy raak daaraan maar dit is werklik, hy beweeg verder en sien die bondel wit skoenlappers uitpeul van iewers, hulle dartel hoog voor hom uit en selfs hulle vlerke lyk vreemd byna betowerend mooi asof hulle uit ;n sprokieswereld kom.

Dan is sy daar, hier voor hom ook gehul in die wonderlig. Sy staan op haar tone en soen hom op sy wang. Hy is half bang om te beweeg en die oomblik vir altyd te verloor. Haar hare het hy nog nooit so koper gesien en vol ligglans soos op hierdie onbeskryflike sondeurdrenkte middag nie.

Hy kyk op na waar die son is en glimlag, want hy weet die wolk is besig om weg te beweeg en alles gaan nou weer normaal word. Die toweroomblik verby.

2 opmerkings:

  1. Wonderlik! Dit is so mooi! Ek is bly mamma het nou 'n plek om uiting te gee aan daai skryf talent.

    AntwoordVee uit