Maandag 21 Julie 2014

Spieelbeeld

Wanneer ek in die spieel kyk dan verwonder ek my aan die ou tannie wat na my toe terug staar. Ek wil vir haar vra hoe gaan dit Tannie?
Ek wil vra, hoe het Tannie so oud geword sonder dat ek dit agter gekom het.
Dan, wanneer ek wegdraai van die spieel en sy kom saam gaan maak ek maar vir ons tee want God het haar mos geskape en is lief vir haar net soos sy is,,
Ek skink vir haar tee in my beste koppies, dek die skinkbord netjies en gaan sit saam met haar in die son. Ek gesels rustig en stil omdat ek weet sy hou daarvan.
Ek vra nie uit oor haar kinders nie want hulle is ver, en die verlange is te groot.
Ek sien hoe het haar oe agteruit gegaan, hoe moeilik staan sy op en bewe sy as sy die koppie vashou.
Ek wil vra Tannie vertel my van jou lewe, wat het dan vir Tannie so gou oud gemaak maar ek bly stil en hou vir haar die karringmelkbeskuitjies waarvoor sy so lief is.
Tydsaam roer sy haar tee, kyk na my en se: "Moenie vir jou so bekommer nie alles sal regkom..."
"Maar Tannie ...hoekom het dit so gou gebeur?"
"Wat my kind? Wat het gebeur?"
"Die ouderdom...die plooie ...pyne...die sukkel...?"
" God het dit so besluit, Hy het my so gemaak, sodat ek alles kan weet voordat dit te laat is..."
Sy staan op, sit haar koppie versigtig terug op die skinkbord neem haar kierie en stap weg. Ek gaan saam...in die gang kyk ek in die kapstok se spieel... sy kyk terug na my en glimlag sag.

Donderdag 26 Junie 2014

EERSTE KLIP

Sy hou Hom al n geruime tyd dop.
Sy staan altyd eenkant, kruip weg agter n muur of soos nou die dag agter n ou vyeboom se kronkelstam. Sy dra sandale en haar rok sleep oor die grond, die stof warrel op soos die mense saamdrom maar sy hou haar beskeie eenkant en staan verskuil in die skemer van die gebou.
Die groot massiewe hoek stene bied skuiling aan haar uitgeteerde lyfie.
Dan breek daar chaos los...mense hardloop en stamp teen mekaar n geraas kom van verder aan en almal maak die pad oop ...n hele regiment soldate kom verby en die geluid wat hul voete op die keistene maak is weergalm oorverdowend teen die muur waarteen sy skuil.
Sy sien die manne wat saam met Hom loop saamdrom, die manne van die tempel, die fariseers drom ook saam en praat dringend met mekaar.
dan hoor sy die woorde en skarrel verder weg.
"Stenig haar...!"
Sy maak geen geluid nie maar beur haar lyf verder in die klipmuur in asof sy daarin wil verdwyn.
Die soldate beweeg verby maar kyk na haar...een skree n onaangename woord in Aramees en sy versteen verder.
Dan asof uit niks sien sy Hom sit , Hy sit rustig asof niks besig om te gebeur nie.
Sy herken Hom, sy loop al dae agter Hom aan...teen skemer gaan sy huistoe en het dan niks om te eet nie...
Sy ken die kleed sonder nate, die voete in sandale, sy ken sy gesig maar is te bang om in sy oe te kyk... Is Hy regtig die een wat hulle se hy is?
Die dissipels drom saam en praat met Hom... hy staan op en praat kort met hulle...dan gaan sit hy weer.
Sy kyk hulpeloos rond daar is niks waar sy kan skuil nie... hulle kom gryp haar en sleep haar voor hom...
" Raboeni...se een, hierdie vrou is n prostituut...wat moet ons met haar doen? Sy besoedel die dorp met haar gewoontes, sy is n slegte voorbeeld vir baie en die jong seuns praat van haar..."
" Stenig haar." skree een, van agter uit die mense. Dit is n vroue stem en sy versteen...selfs die vrouens is teen haar!
" Ja.... se die een kom ons stenig haar...sy is nie goed genoeg om hier rond te loop nie."
Jesus roep die vrou nader en Hy sien die maer lyf, die verslete klere, die stof van dae aan haar voete. Hy laat haar nader staan en dan skryf Hy in die sand...Sy kyk na die woord en dan vraend in die sielvolle oe van die man wat hul Jesus van Nasaret noem.
Dan vra Hy: " Het jy dit gedoen?"
Swaar kom die woorde oor haar droe lippe..."Ja meester ek het.."
Jesus staan op draai na haar en se "Gaan in vrede, laat die eerste een wat sonder sonde is, die eerste klip gooi."
HAAR OE GAAN OOP EN SY SIEN WIE HY WERKLIK IS.

Dinsdag 24 Junie 2014

DIE TAAL WAT EK KEN


Die eerste Afrikaanse Bybel word in 1933 gedruk en uitgegee.
Natuurlik besit die dominee op die dorp die eerste een. Baie mense is verbaas en nuuskierig.
Die Sondag na kerk staan Oom Piet Kromdraai op, almal wag, want hulle weet hier kom n ding! Die vrouens skuif hul hoede reg, kinders staan op en gaan sit dan weer.
Oom Piet se stem bulder deur die stil kerk met sy houtbanke, kanselkleed en hoe dak.
" Dominee,.. hier le n swaar ding vanmore op my hart... Dominee het nou vanmore uit die nuwe Afrikaanse Bybel voorgelees, maar ek wil beswaar maak, ek wil beswaar aanteken in die anale van die kerk."
"Broer, se Dominee, wat is op jou hart, ons luister."
"Dominee...ek se ons hou by die Hoog Hollandse Bybel want wat goed genoeg was vir Petrus en Paulus...is goed genoeg vir my."
Die gemeente is doodstil.
Agter in die kerk vlieg n jonger boer op en met sy hoed in sy hand, se hy: "Oom Piet gee tog net vir Dominee n kans om te verduidelik, dalk moet ons net eers luister die Woord bly mos maar die Woord."
Dominee staan verslae op die kansel: " Broers, broers ons kan in die konsistorie verder redeneer... die Woord bly die Woord... dit is waar."
Dominee lag stil agter sy hand...verbeel jou Hoog Hollands...

Maandag 09 Junie 2014

ONMEETBARE LIEFDE

Nog n dag het U ons gegee
nog een dag meer om te leef
sodat ons u kan loof en prys,
nog n enkele uur by ons lewens gevoeg
Vandag wil ons net se dankie Heer
dankie vir die onmeetlike skatte
wat ons ontvang
vir die gawes en talente
die perels op ons pad gestrooi,
tel dit op...sien dit raak,
Dankie Heer dat u oneindig baie
van ons hou.
Dankie dat U ons wil toeeien
aan U troon.
Vandag, more en tot in ewigheid
wat tydloos ons begroet.                        nauda

Vrydag 06 Junie 2014

kinders, burgers en braaivleis.

Ek mis die dae toe julle naby was
die speletjies in die tuin
die saam lag en speel
ek mis die oggende se geskarrel
die aande se storie-tyd en drukkies
nou is julle grootmense
julle het gevlieg en baie baie ver weg
ek mis die tyd in die stad
die tye van stoei en baklei
ons het saam koekies gebak
kos gemaak
wimpy toe gegaan
melkskommels
burgers
braaivleis
mis julle lag en skree
julle hang aan my bene
mis die swaarkry alleen
mis net mooi alles.
trek warm aan dis koud buite ...
liefde mamma.

Vrydag 02 Mei 2014

KAKIEBOS EN KLITSGRAS.

Nog n dag, nog n Vrydag, nog n week verby waarin ek alleen was,
alleen met my eie gedagtes.

"Hier het nuwe mense langs my ingetrek." Wil ek vir iemand se.
"Hulle gaan braai vanaand." Wil ek byvoeg.
"Niemand kan so goed braai soos n afrikaner man nie". Se ek omdat ek weet dit is waar.
Die honde, drie van hulle, kyk my aan met vraende gesiggies.

Vanoggend stap ek so deur die sitkamertjie in my huis, ook maar klein en beknop...dink ek. Ek sien iets onder die teetafeltjie le en ek kyk en kyk.
Omdat my oe nie meer so goed is nie stap ek nog nader, buk af en verkyk my aan wat ek sien.
Dit is hoendervleis bo-op my mat!
Nouwaar sou hulle (die honde) dit kry. Ek het gisteraand die laaste lamsbredie warm gemaak en geeet.

Wat my soontoe geneem het weet ek nou nie meer nie, ek bevind my by die muur agter die huis tussen my en die nuwe bure. Ek kom min daar, wat moet ek daar doen, dit is die plek waar ons n komposhoop begin het.
Ek wou n gat in die grond he, sodat dit netjies lyk maar my niggie gee toe die goeie raad van: "Nee, mens maak n hoop dan kan dit van tyd tot tyd omgedaai word. Ek half teensinnig stem in.

En... dit is net daar waar die moeilikheid begin het, die bure stort nou al hul oorskiet kos oor die muur.
 Ek het gevra: "Wou julle dit vir die hondjies  gee?'.
"Ja." was knikkend die antwoord.
Ek verduidelik dat die twee hondjies al onderskeidelik 15 en 14 jaar oud is, hulle mag gladnie hoenderbene eet nie.
 Die ou klein hondjie vreet natuurlik voor die ander uit en slaap toe die hele oggend te lekker.

Ek is kwaad en ondersoek die hele spul. In my gedagtes weet ek, hulle het gedink... a lekker stortingsterrein by ons agterdeur.
Die gemors moet skoon en ek gaan haal n skoppie en tel op, gooi weg en ontdek pynappelskille in die verste hoek van my erf, brood, wortels, skille en stukke aartappel. Hondekos?
Dit is wat ek teen so n komposhoop het, elke lewende wese dink dan dit maak nie saak nie.
My brein is nou aan die werk hoe ek dit kan verander want so wil ek nie my agterplaas he nie,  maar ek het kompos nodig want die grond in die tuin is morsdood, niks wil groei nie, nie eers vetplante nie.
Kakiebos en klitsgras, ja die groei enige plek.




Sondag 27 April 2014

HIERDIE WEEK IN DIE NUUS



Hierdie week se nuus gaan alles insluk, alles oordonder en alles toesmeer... ons gaan oor en oor hoor hoe goed hierdie een was die afgelope aantal jare en hoe sleg daardie een was dieselfde aantal jare.
Geen ander nuus gaan belangrik wees nie...
Van Oscar en Reeva gaan ons vergeet...
Steve se nuwe boek en al sy sondes gaan doodstil le en wag...
Dozi en Adam Tas sal moet wag..... iewers...
want hierdie is die belangrikste "event" van die jaar
DAAR IS NIEMAND EN NIKS MEER BELANGRIK AS DIE OU OP DIE VERHOOG WAT SO SKREE NIE.
Die ambulanse ry nog
die taxi's jaag nog voor mekaar in
die hospitale is vol...die tronke se deure slaan nog toe.
MAAR DIE MAN WAT SO SKREE OP DIE VERHOOG GAAN NET AAN
Daar le dooies in stegies, kinders krap in vullisblikke toilette staan verstop
mense dra water aan en loop ure en ure...waar gaan hulle heen?
Net een ding is hierdie week belangrik, net een ding word gedoen, net oor een ding word gepraat.
HY BELOWE AAN DIE ARMES, MEER SPOELTOILETTE, MEER SKOLE MEER HANDBOEKE EN REGVERDIGE EKSAMENS.
"Waar loop jy heen?"
"Ik gaat stem"
"Ag sal dit help...om te stem?'
"Ik wetie maar ek gan maar vir daai ou stem want hy praat darm sense"
"wat belowe hy?"
"Hy se as ons vir hom stem sal dit baie beter gaan met ons paaie, ons brue ons hospitale en kinders..."
"Wat se hy, kry ons wasmasjiene..."
"Wragtie ek wetie maar dit gan so goed gaan ek koop sommer self een."
"Hey Sussie vir wie gaat jy stem?'
"Ek weet noggie, ek dink ek stem maar vir die HERE, want HY belowe en dan hou Hy daarby."
So stap hul stembus toe...
VIR WIE GAAN JY STEM HIERDIE WEEK?
Ek gaan beslis ook vir die Here stem want in OPEN 7:9 staan daar dat ons op die ou end almal tog maar vir HOM gaan stem...