Sondag 29 Januarie 2017

brief aan my niggie



                                                                                    
                                                                                               Posbus 7

                                                                                               Woestfontein

                                                                                                8771

                                                                                               27 Januarie 2017
My liewe nig Heste

 Ons sou so lekker hier op die plaas  gekuier het gedurende die lang

 skoolvakansie.  Nou is jy siek, ek hoop dit gaan al beter.  Ek kan jou verseker

 as jy hoor wat  gister met my gebeur het, is jy sommer gou perdfris.


 Omdat ek natuurlik so alleen is, het ek eers n uur lank gaan swem in die

plaasdam, nie die gronddam nie,  die sementdam naby die vrugteboord.

Met die terugstap huistoe,  val my oog op die solderdeur wat effens oopstaan.

Net daar besluit ek om bietjie daar te gaan rondsnuffel, dan trek ek sommer

 daar my klere aan.   Met die oopstoot van die deurtjie bo die trap,  het ek besef

 hoe vreeslik ek jou mis.    Spinnerakke hang alweer toue en die muise piep ook

 in hul broeiplekke.  Ek het  vasberade gebeur na die hoek waar ons die mandjie

 gesien het.  n Vlermuis het laag oor my gevlieg,  muise het geskarrel,

  spinnerakke het in die flou lig gebewe. Dit is stof sover ek gekyk het, natuurlik

 omdat die deur oop was.


  Net toe ek die mandjie sien,  slaan die deur met n harde knal agter my toe.

Verskrik het ek rondgetas, my hart het in my keel geklop.  Ek gooi sommer my

 somersrok bo-oor my nat swembroek ... alles het stil geword om my.

 Ek het die mandjie gegryp en teen die deur geskop.   Daar val darem

 ligstrepies deur die plankvloer se gleuwe en spasies waar kwaste uitgeval het.

 Die venster was gegrendel  so ek het maar daarvan vergeet.

 Die enigste manier uit is met die trap af.  Voor ons bang word, moet ek

besig word, het Ouma ons mos geleer.  Ja, ek weet ons het besluit om dit

saam te doen...  ek was immers in n noodsituasie of hoe?   Versigtig het ek stuk

 vir stuk uitgehaal en langs my neergesit, ek bedoel nou die mandjie se inhoud.


 Bo in die mandjie was Ouma se sjaal wat sy die laaste jaar om haar skouers

gedra het,  ek het dit versigtig om my skouers gehang en my verbeel ek sien

haar voor my sit met haar breiwerkie.

Alles wat in daardie mandjie was lyk nog silwerskoon,  nie veel stof op nie, as jy

in ag neem hoe lank sy reeds oorlede is.  Juwele in n leersakkie, kraletjies

 toegebind in n stukkie borduurlap, borsspelde en ander klein juwele in n

 gehekelde sakkie.


  Daar is wel ook n paar briewe in wat ons saam sal lees.  Wat ek onder

 die briewe ontdek het, het my na my asem laat snak. Eers het ek rondgekyk in

 die solder en doodseker gemaak niemand kruip daar weg nie, want hierdie

 gaan net ek en jy, my dierbare niggie, deel.
 
  
 Gelukkig het n werker my daarbo gehoor kap en skop aan die deur en het

  hy my kom red.  Dit was eers baie later, in my kamer, dat ek die geleentheid

 gekry het om weer daarna te kyk.  

 Daardie nag kon ek nie slaap nie.  Later het ek n kers opgesteek.

 In die lig van die kers was alles nog mooier,  nog meer interessant en meer

 nostalgies.  Alles, letterlik alles, in daardie mandjie is ongelooflik belangrik vir

 ons twee, naamgenote. Kan jy glo die liefdesbriewe aan Oupa toe hy in die

 Vryheidsoorlog geveg het, is veilig bewaar in mooi lap met n lintjie vasgestrik.


 Ons moet groot besluite neem oor die skat.  Dit moet iets asemrowend

 mooi of duur wees, want dit is veilig bewaar in n verseelde houtkissie.


  Ek wens so jy was gesond om te kom kuier!  Laat weet hoe dit gaan.

  Sterkte, tot ons mekaar weer sien.

     
        Met liefde- groete.

        Jou niggie, Nauda.
 

Ns.  Terloops daar was mos n halfgebreide breiwerkie bo in die mandjie, dit is

nou weg.



                                                                                 


 Geskryf deur: Nauda van Rensburg                                                                                  

Saterdag 10 Desember 2016

OM TE KOESTER...

n Skat word bewaar...

In my ma se hangkas was n hout kassie waarin sy goedjies gebere het.
Ek was baie nuuskierig en het altyd skelmpies daarna gaan kyk, natuurlik wanneer sy buite die huis besig was.
Daarin was niks regtig van groot waarde nie maar vir my was dit soos skatte.
 


My ouers was maar soos die meeste mense daardie tyd nie baie welaf nie. Hulle moes leer om uit niks, iets te maak.
Deesdae is dit anders, mense dink anders, hulle dink alles moet deur iemand anders aan hulle gegee word. Die lewe of mense skuld hulle dit!
In elk geval die kissie was vir my so kosbaar want daarin was n piepklein bedjie van versiersuiker en n poppie. Die kombersie bo oor die bedjie was ook van versiersuiker maar het soos kant gelyk. Wanneer ek dan vir my ma sou vra: "wie s'n is dit?" Het sy sonder skroom gese: " Attie s,n. Dit was op sy doopkoek." (Attie is my broer, ouer as ek)

Ek kon nie ophou daarna kyk nie. Waar's myne hoekom het ek nie ook so n poppie gehad nie?
Nou wonder ons as christene en dalk die wat nie glo nie.

Waar's my deel dan, waar is die wonder waarvan in die Bybel gepraat word?
Waarom is God so geheimsinnig? Waarom mag ons nie Hom sommer sien en deel in die lekker en die mooi wat ons glo ons deel sal wees eendag.

In Johannes 1:18
" Niemand het God ooit gesien nie. Sy enigste Seun, self God, wat die naaste aan die Vader is, die het Hom bekend gemaak."
Niemand het God ooit gesien nie, maar ons houvas in hoop en verwagting, ons bly glo.
Wanneer jy Christus in jou hart ingelaat het, weet jy dit is waar. Die Heilige Gees openbaar God aan ons.
Daar staan uitdruklik dat Christus, God die Vader se enigste Seun het Hom aan ons bekend gemaak.
Jesus Christus het ons kom wys waarna om na uit te sien, Hy het ons kom wys hoe dit sal wees by Hom. Net n deeltjie van die heerlikheid wat op ons wag en die verskil is elkeen wat Hom aanneem as verlosser gaan deel daarin.

Niks wat spesiaal en kosbaar is le sommer rond nie, as God soos n ou man was waarmee ons kon gaan gesels en ons kon Hom sien sou die skat dan nog so kosbaar wees?

Iets spesiaals word gebere...

Donderdag 21 Julie 2016

Dierbare Here,
Help my om n klein rukkie stil te word by U. Laat ek die gejaag om my vir n oomblik laat begaan.
Ek het vir my n koppie tee gemaak en sou so graag wou dat U hier saam met my in die sonnetjie wat plek - plek deur die boom se takke val, kom sit Here.
Diep binne my weet ek U is hier.
Ek wil vanoggend niks kom vra nie Here. Net kom dankie se vir U Almagtige teenwoordigheid rondom my. In die tuin, die plante, die voels in die boom.
Die tortelduifies wat skaam eenkant sit.
Ek wil dit alles graag met U deel
Jesus Christus, dankie dat U met my die pad stap van ouer word.
Dankie dat ek weet U hou my hand vas,
U beskerm my teen mense se ongeduld wanneer ek nie wil simkaarte omruil, data rondstuur nie maar net by U wil stil sit vir n ou klein rukkie nog.
Dankie, dat U nie soos mense sal wegloop en my daar op die houtbankie onder die boom alleen sal los nie.
Dankie Here vir U belofte dat U tot die einde van die tyd by my sal wees.
U is groot bo almal.
Het U gesien hoe die son deur die Strilitzia skyn? Die dou op die enkele roos?
Ja, U het die aarde so lief gehad...
ek weet U het gesien hoe n blaar op my hand val want U is hier.

Dit was U ...

Woensdag 13 Januarie 2016

DIE LIEWE BORDJIE EETGOED

Dit is warm, die sweet tap ons af.  Die tannie reg voor my skuif rond en vroetel
 met haar sakdoek. Sy het n appelkoos pakkie aan en bypassende handsakkie.
 Ek kyk versigtig die mense deur. Ouer mense, ek sien nie een van my ouderdom of jonger nie.  Dit is my heel eerste oggenddiens wat ek op die nuwe dorp bywoon. Ek het gister middag hier aangekom.

Ongelukkig is dit Januarie en om hierdie tyd van die jaar jou sit te kry op n klein plattelandse dorpie in die karoo, is maar moeilik. Almal kry warm en met die kwik naby die vyftigs voel ons pap en uitgemergel. Mevrou Appelkoos bly omkyk, dan hou sy haar hand bak en fluister iets van ...vra. Dalk wil sy my iets vra, besluit ek.  Dominee maak gou klaar en ons stap uit in die skreeu warm son.

Almal verdwyn binne minute en ek staan alleen daar voor die kerkgebou.
Ek skrik toe iemand agter my praat.
Netjies in haar appelkoos pakkie met  handsakkie staan sy voor my,  effens breed om die heupe,  dink ek,  maar groet vriendelik terug.  Min het ek geweet hoeveel keer sy nog so voor my sal staan.
Baie gedagtes gaan deur my kop, die kanselkleed in groot goue letters, die dominee op die kansel en die mense voor my in die kerk.  Waaroor wil sy met my praat, sy het gese sy wil my iets vra.

Ek stel myself voor en las sommer by dat ek die nuwe skooljuffrou is.  Sy is aangenaam verras en val sommer met die deur in die huis of moet ek se met n bordjie eetgoed binne in my kombuis. Sal ek dan tog so gaaf wees om vir volgende Sondagoggend n bordjie soet en n bordjie sout kerk toe te bring, want ons drink tee na die diens.

Dit is gou,  dink ek,  terwyl ek aanstap na my warm gebakte motortjie n entjie verder.
Die skoolweek is rof en ek vergeet heeltemal van die eetgoed.
Moeg sak ek Saterdagaand op my bed neer na n vol dag in die son, ons het atletiekbyeenkoms gehad. Ek dink aan more- oggend se kerk en asof iemand my n hou gee onthou ek van die eetgoed. Hoe laat is dit... die kafee is seker al toe!
Ek stap na my gasvrou toe, want ek huur nog n kamer by die gastehuis.
Nadat ek toestemming gevra het om die kombuis te gebruik, stap ek half sleepvoet daarheen en dink wat bak ek sonder bestandele, ek sal moet van die gastehuis se bestandele gebruik. Gelukkig stap my gasvrou saam met my en ek vertel haar wat die probleem is. Sy stel my gerus dat ek niks hoef te bak nie, sy het oorgenoeg gebak en sal van dit op n aparte bordjie pak wat ek kan saamneem.
Ek slaak n sug van verligting en na n lekker stort,  kruip ek vroeg in.

So het ek deel geword van n gemeenskap waar eetgoed by elke tee geniet is.  Die wat die eetgoed maak,  eet dit gewoonlik self ook.  Ons drink tee, hou bazaar, straatverkopings, bidure, troues, begrafnisse en selfs kinders doop ook, alles met n bordjie sout en soet. Om nie eers te praat van die okkasie met ou dominee se afskeid en dan weer die nuwe jong dominee se verwelkoming nie. Ek moet se, ek het self die nuwe dominee se verwelkoming geniet... hy is voorwaar iets vir die oog en boonop vars uit die Kweekskool.

Tannie Gastehuis het nie elke keer vir my ingestaan nie, later moes ek self in spring en my deel bydra.  Ek wonder stil of dit kan afgaan as deel van my tiende...die eetgoed elke kort-kort.

Dan kom die eksamen,  die kinders kry ekstraklasse,  waarmee ek ook moet help,  ek raak al hoe besiger en vat amper nie grond nie.  Een middag stap ek sesuur eers by die gastehuis in, moedeloos gedra aan die skrifte wat gemerk moet word.  Ek laat gly dit af op my bed en dink die hele tyd aan die bordjie eetgoed wat ek more -oggend vroeg by die skool moet he. Wat gaan ek tog maak?

Nadat ek geeet het weet ek nogsteeds nie wat om te maak nie, alles is al toe op die dorp, so ek kan niks koop nie. Sal ek nou maar weer die tannie vra... ? Op daardie oomblik kom Tannie Gastehuis die vertrek binne.
Net soos ek die skrifte laat afgly het op my bed, so laat gly ek die woorde soos n refrein uit my mond uit.   Sy kyk my n oomblik verstom aan en besef toe eers wat ek vir haar se... ek moet more-oggend vroeg n bordjie eetgoed by die skool he en dit moenie skons, muffins, broodjies of enige gewone eetding wees nie,  dit moet iets besonders wees want daar is baie belangrike gaste.  Ook nie koesisters nie, want die het hulle al gekry, ook nie poffertjies nie en asseblief tog net nie soutbeskuitjies opgesmeer nie.  Ek was lus om te vra, bly daar nog iets oor, dalk moet ek sommer n bordjie beskuit daar  neersit.

 Sy haal n rol blaardeeg uit die vrieskas en sit dit op die tafel neer.  Ek kyk vraend na haar.  In haar vriendelike moederlike stem se sy ek moet n lekker stort gaan neem en dan sal ons die eetgoed aanmekaar slaan.  n Halfuur later is ek terug, skoongewas en reg vir die uitdaging.

By die skoongeskropte kombuistafel drink ons koffie, eet n beskuitjie ( natuurlik haar eie ) en rol later die deeg op dieselfde tafel uit.
Ons maak soutwieletjies met Marmite en kaas. Heerlik!
Ek verstom my hoe vinnig dit is en dit lyk so mooi, dit lyk asof ons baie moeite gedoen het. Hierdie een moet ek onthou,  dink ek toe ek later die duvet tot teen my ken optrek.

Die volgende oggend brand die son al voor sewe.  Ek pak die eetgoed agter in die motor sodat dit veilig kan wees deur die slagate en slegte grondpad skool toe.  Daarna wil ek gou weer in hardloop om my skooltas en boeke te kry.  Ek is laat suis dit deur my kop.  By die motor soek ek na my sleutels...veilig hang hulle binne in die aansitter en die motor is gesluit,  dit is n ou motor soos julle kan aflei.
Die son brand ... ek hardloop op en af...wat nou!
Dit is ver skooltoe, my handsak met selfoon le rustig op die sitplek.  Tannie Gastehuis is vroeg weg stad toe. Ek voel hoe stoot die ongeduld in my op en onthou toe van n vriendin wat my dalk kan help, maar om haar te bel moet ek by my handsak uitkom.   Ek voel asof ek kan skree!  n Draad...dink ek...waar kry ek n stewige stuk draad!  Ek hardloop heen-en-weer stoep toe, in die gastehuis in, kombuis toe, slaapkamer en toe weer terug motor toe.  Met die laaste uitkom by die voordeur trek ek die swaar houtdeur agter my toe soos dit n goed opgevoede dame betaam.  Nadat ek met n draadhanger vir hoe lank gesukkel het, wil ek weer inhardloop om dalk iets anders te probeer...die deur is gesluit, natuurlik sluit hy as jy hom toetrek. Daar staan ek,  die kosbare minute tik verby.
Na n groot gesukkel, chaos, fiasko, ongelukstoneel of wat sal ek dit noem?  Wil ek moed opgee en gaan sit op die randsteen van die sypaadjie.  n Meisie sit nie so nie, hoor ek my ma se stem in my kop.
 Die volgende paar minute voel soos n ewigheid maar dan kom iets of iemand tot my redding... die polisie ry roekeloos om die hoek en mis my motor met milimeters.  Hulle stop en klim uit en beduie dat ek nie daar mag parkeer nie.  Ek verduidelik en  binne minute is die motor oop.

 So in die ry bel ek my vriendin net om van my fiasko te vertel en om haar te vra of sy asseblief net sal toesien dat die leerlinge in my klas hulle gedra, sy hou saam met my skool ... ek verloor beheer oor die motor en kom teen n grondwal tot stilstand.  Al vier bande pap.  Nou het ek net een opsie, bel die skoolhoof.
Die sekretaresse gee antwoord, toe sy hoor dit is ek skree sy my ore doof, ek kry nie n woord in nie.
Meneer wil ontplof, die inspekteurs is al daar en hulle soek die eetgoed wat ek veronderstel was om al sewe dertig daar te he!?  My klas is chaos, die kinders hang by die vensters uit en ... en ...en.
Ek druk die foon in haar oor dood, net daar neem ek n besluit...dit is voorwaar die laaste bordjie eetgoed wat ek sal maak!
Dit stop nou net hier!

Geskryf deur: Nauda van Rensburg




die lewe is n lied

ek sing vandag n nuwe lied
tot eer van my Skepper
Hy het my geskape
presies soos Hy dit wou
die lewe se lied weergalm
ek
sing dit met n suiwer stem
elke noot ken sy plek
hoog en laag
elke nuwe dag
n nuwe versie nuut geskryf
ek speel dit met n panfluit
die mooiste
skoonste
suiwerste note
soos God dit self geskryf het
ek stap aan deur die skemer-
aand tot in die helder lig
geskryf

Donderdag 03 Desember 2015

UIT DIE KERKKANTOOR 3


Die stof staan soos hy skoffel aan die duwweltjies wat so geil staan in die kerk se agter tuin. Ek stap nader en ek sien dadelik hy is omgekrap...ek weet sommer waaroor dit gaan. Ek staan onder die Wit Stinkhout totdat hy my raaksien, hy hou op skoffel en kom hoor wat ek wil se.
"En as jy so erg skoffel vandag, Pikhele?"
"Nee, as mense se agter yard vuil is dink die mense jou voorhuis lyk ok so."
"Ja, dit is waar, dit werk met mense se hart ook so."
" Die mense maak my moeg..."
"Hoe so?" vra ek en wag want ek weet wat op sy hart is.
"Oor die storie..."
"Die watermuis?"
"Ja, jy moenie so baie praat oor darie deng nie hy sal weer kinders vang."
" So jy glo daardie storie?"
Hy vat sy graaf en steek steek so plat onder die duwweltjies in sodat die wortel wat net uit die kroon in die grond vas is breek.
"Ja, ek glo hom. Hier op hierdie dorp het al kinders gesterf van daai deng."
"Vertel my." Ek hou die blikkie coke na hom toe uit wat ek vir hom gekoop het.
" Dit is n lelike deng darie, ons moet sag praat." hy gaan sit onder die Wit stinkhout.
Ek maak my langs hom tuis en weet hier kom nou weer twee stories vandag, die een van die watermuis en die een omdat ek saam met Pikhele onder n boom sit. Ek skuif op sodat ek naby hom sit om mooi te hoor, maar ook om die skindertonge iets te gee om oor te praat.
Hy vertel met groot ontsag van die dag toe die watermuis geloop het.
" Die dam was vol vol water want dit het goed gereen. Die kinders van die lokasie het gaan swem by die dam. Hulle trek algar die klere uit en swem kaalgat. Toe daar kom van die wit kinders van die dorp en swem ook saam.
Die middag was al laag en die son het begin water trek. ons mense het met die paadjie begin loop vannie dorp af lokasie toe. Ons hoor die skree van die kinders, groot skree, nie die speel nie. Ons begin hardloop dat ons voete klap by die pad. Ons kom daar en kry die kinders by die diep water. Die wit kinder skree en roep ons moet kom help. Ek trek my klere uit en spring in die water net so kaalgat. Ek swem want ek kan tot by die kinders. die wit kinders is bang en skree hard
Toe ek daar kom is darie swart kinders weg." Hy kyk weg en skud sy kop." Hulle was helemal weg ons het hul nooit weer gekry nie, nie die lyk nie, niks nie."
" Nou, Pikhele, jy se die watermuis vang net swart kinders, hoekom het hy jou nie ook gevang nie.?"
"Ek ek het mos by die witmense groot geword van seuntjie af." Hy beduie met sy hand omgedraai en die vingers bymekaar, tipies soos hulle dit doen.'
" Maar, jy is dan swart Pikhele..."
"Nee maar hy weet watter kind is swart en watter een wit, oor ek n wit ma gehad het is ek nou n witkind. By die lokasie almal weet ek ek is n wit mens."
" Haai Pikhele nou praat jy n ding wat ek nie geweet het nie. So jy was nog jonk toe darie ding gebeur het?"
"Ja, ek was nog ook n kind maar het al gewerk by die yarde van die witmense."
"Baie dankie Pikhele dat jy vir my die storie nou heeltemal klaar vertel het. jy moenie vir die ander mans of ander mense wat kom vra die storie vertel nie, hoor." Ek stop hom n pakkie Boxer tabak in die hand en stap met n groot glimlag terug.
Ek sien die twee ou tannies weer by die draad en hul gesels te lekker. Ek weet sommer waaroor en stap die kerkkantoor binne om te sluit en huistoe te gaan.
Met die by-die-huis-kom kry ek Tant Ralie op die stoep besig om haar plantjies nat te gooi. Ek gaan sit op die houtbank en vertel haar die storie.
"Ja, se sy sy onthou nog van die petalje van die kinders wat verdrink het in die dam maar die lyke is nooit gevind nie."
"Is dit waar dat Pikhele by blankes groot geword het?"
"Ja. dit is waar, ek het hulle goed geken maar hulle is n paar jaar gelede sommer skielik naby mekaar oorlede. Siestog, Pikhele was ook op die begrafnis maar het eenkant gestaan sy hoed in sy hande voor hom opgefrommel en die trane het stadig oor sy wange geloop, die dag toe die Tannie begrawe is. Hy het nog gehelp die graf toegooi."
Ons het nog n rukkie daar in die aandskemer gesit en toe vra ek: "Tannie, wie was die wit kinders.?"
"Hulle was, wag laat ek dink...Benjan Swart en Koos Du Plessis, ja dit was hulle. Hulle het groot geskrik."
"Lewe hulle nog?'
Ja, albei boer hier in die distrik... groot sterk mans geword."



Saterdag 28 November 2015

UIT DIE KERKKANTOOR 2

"Kind, jy maak n fout!"
"Hoekom Oom, ek is een wat n ding wil uitpraat, ek los niks sommer net soos n wolkie in die lug nie."
"ai tog Kind, los dit nou, hierdie kan n lelike storie afgee..."
"Oom hou asb op om vir my kind te se, ek is kwaad en niks gaan my stop nie! Vanaand is dit kerkraadsvergadering en ek is daar. Ek wil die ding uitpraat."
"Ek se weer, jy maak n fout..."
Daardie aand sit ek eerste by die tafel waar die kerkraadsvergadering gehou word. Ek wag tot almal sit en die dominee geopen het met gebed. Dan se dominee, hy sien ek is ook hier en kan ek asseblief verduidelik waarom ek die vergadering bywoon.
Ek staan op en kyk die mans om die tafel die een na die ander deur en dan kyk ek dominee reguit in die oe.
"Dominee ek is hier omdat daar iets is wat ek wil uitpraat. Iets wat my diep grief."
"Gaan voort suster, sodat ons kan aangaan met ons vergadering."
Ek begin en soos ek aangaan met my storie word ek al hoe meer warm onder die kraag.
"Dominee ek het hier kom bly omdat ek uit ie stad wou kom en omdat ek gedink het dit sal vir my lekker wees om hier op die plattelandse dorp te werk. Ek weet nou egter nie meer nie want wat my onderkry is die geskinder van die mense op die dorp."
"Soos almal weet gaan dit maar so op hierdie klein dorpies. Mens moet maar nie die mense n rede gee om te skinder nie." Skerm dominee vir sy lidmate.
"Ek het niemand rede gegee om sulke stories oor my te versprei nie."
"Lig ons bietjie meer in asseblief."
"Net omdat ek met die tuinman gesels word daar nou stories versprei dat ek n verhouding met hom het."
"Hoekom gesels jy dan met hom?"
'Ek gesels met hom omdat hy vriendelik is en hy vertel my baie oulike stories. ons is maar net vriende."
Dit laat party kerkraadslede erg rondskuif en keel skoonmaak.
"Soos wat se stories..."
"Soos oor die watermuis en nog baie ander stories."
"Die watermuis?"
"Ja, dominee."
"Vertel ons ook van die sogenaamde watermuis."
"Nee, ek gaan nie. Julle kan self by hom daaroor gaan uitvind. Hy praat goed genoeg Afrikaans sodat julle hom kan verstaan."
"Wat is jou doel hiermee, dat ons self by hom moet gaan uitvind?" vra een van die mans ongeduldig.
"Want dit het tyd geword dat ons in hierdie land met mekaar begin praat en mekaar se stories deel." Ek staan op en met groot geraas stoot ek my stoel agteruit en stap uit.
Ek hoor die stilte wat oor hul neerdaal en dan begin dit gons.
Die volgende oggend vroeg is een van die ouderlinge by my. hy lyk baie vriendelik en gaan sit ook sommer op die stoel oorkant die lessenaar.
"Ek wil graag die storie van die watermuis hoor." Se hy kort en kragtig.
"Ek het mos gese gaan vra hom self."
"Jy is baie parmantig vir iemand wat verlee is oor n werk."
"Ek is moeg vir die geskinder. Wat sou jy gedoen het as die storie so geklink het... weet julle Piet Kramer het n verhouding met sy huisbediende...?
Hy vat sy hoed en sit hom op sy kop met die uitstap by die deur.
Daardie middag toe ek terugstap huis toe, sien ek hulle weer oor die draad staan en praat.
Ek groet hulle vriendelik terwyl ek vir Pikhele waai waar hy in die kerktuin werk. ek hoor hoe hulle stilbly tot ek verby is en toe praat hulle weer.
Die speletjie begin vir my lekker word, dink ek.
By die huis skud ek die stof van my skoene af en met die instap in die koeligheid van die huis roep die tannie my.
Ons sit aan weerskante van die kombuistafel en drink tee uit haar blommetjie koppies. Sy lag so toe ek haar vertel van die hele petalje, dat sy amper verstik.
"Vertel my dan die storie van die watermuis."
Ek vertel haar en ons le soos ons lag. Ek weet dat sy vir Pikhele ook gaan vra want hy werk Woensdae in haar tuin ook.
"Ja, hierdie dorp se mense het nog baie om te leer..."