Donderdag 03 Desember 2015

UIT DIE KERKKANTOOR 3


Die stof staan soos hy skoffel aan die duwweltjies wat so geil staan in die kerk se agter tuin. Ek stap nader en ek sien dadelik hy is omgekrap...ek weet sommer waaroor dit gaan. Ek staan onder die Wit Stinkhout totdat hy my raaksien, hy hou op skoffel en kom hoor wat ek wil se.
"En as jy so erg skoffel vandag, Pikhele?"
"Nee, as mense se agter yard vuil is dink die mense jou voorhuis lyk ok so."
"Ja, dit is waar, dit werk met mense se hart ook so."
" Die mense maak my moeg..."
"Hoe so?" vra ek en wag want ek weet wat op sy hart is.
"Oor die storie..."
"Die watermuis?"
"Ja, jy moenie so baie praat oor darie deng nie hy sal weer kinders vang."
" So jy glo daardie storie?"
Hy vat sy graaf en steek steek so plat onder die duwweltjies in sodat die wortel wat net uit die kroon in die grond vas is breek.
"Ja, ek glo hom. Hier op hierdie dorp het al kinders gesterf van daai deng."
"Vertel my." Ek hou die blikkie coke na hom toe uit wat ek vir hom gekoop het.
" Dit is n lelike deng darie, ons moet sag praat." hy gaan sit onder die Wit stinkhout.
Ek maak my langs hom tuis en weet hier kom nou weer twee stories vandag, die een van die watermuis en die een omdat ek saam met Pikhele onder n boom sit. Ek skuif op sodat ek naby hom sit om mooi te hoor, maar ook om die skindertonge iets te gee om oor te praat.
Hy vertel met groot ontsag van die dag toe die watermuis geloop het.
" Die dam was vol vol water want dit het goed gereen. Die kinders van die lokasie het gaan swem by die dam. Hulle trek algar die klere uit en swem kaalgat. Toe daar kom van die wit kinders van die dorp en swem ook saam.
Die middag was al laag en die son het begin water trek. ons mense het met die paadjie begin loop vannie dorp af lokasie toe. Ons hoor die skree van die kinders, groot skree, nie die speel nie. Ons begin hardloop dat ons voete klap by die pad. Ons kom daar en kry die kinders by die diep water. Die wit kinder skree en roep ons moet kom help. Ek trek my klere uit en spring in die water net so kaalgat. Ek swem want ek kan tot by die kinders. die wit kinders is bang en skree hard
Toe ek daar kom is darie swart kinders weg." Hy kyk weg en skud sy kop." Hulle was helemal weg ons het hul nooit weer gekry nie, nie die lyk nie, niks nie."
" Nou, Pikhele, jy se die watermuis vang net swart kinders, hoekom het hy jou nie ook gevang nie.?"
"Ek ek het mos by die witmense groot geword van seuntjie af." Hy beduie met sy hand omgedraai en die vingers bymekaar, tipies soos hulle dit doen.'
" Maar, jy is dan swart Pikhele..."
"Nee maar hy weet watter kind is swart en watter een wit, oor ek n wit ma gehad het is ek nou n witkind. By die lokasie almal weet ek ek is n wit mens."
" Haai Pikhele nou praat jy n ding wat ek nie geweet het nie. So jy was nog jonk toe darie ding gebeur het?"
"Ja, ek was nog ook n kind maar het al gewerk by die yarde van die witmense."
"Baie dankie Pikhele dat jy vir my die storie nou heeltemal klaar vertel het. jy moenie vir die ander mans of ander mense wat kom vra die storie vertel nie, hoor." Ek stop hom n pakkie Boxer tabak in die hand en stap met n groot glimlag terug.
Ek sien die twee ou tannies weer by die draad en hul gesels te lekker. Ek weet sommer waaroor en stap die kerkkantoor binne om te sluit en huistoe te gaan.
Met die by-die-huis-kom kry ek Tant Ralie op die stoep besig om haar plantjies nat te gooi. Ek gaan sit op die houtbank en vertel haar die storie.
"Ja, se sy sy onthou nog van die petalje van die kinders wat verdrink het in die dam maar die lyke is nooit gevind nie."
"Is dit waar dat Pikhele by blankes groot geword het?"
"Ja. dit is waar, ek het hulle goed geken maar hulle is n paar jaar gelede sommer skielik naby mekaar oorlede. Siestog, Pikhele was ook op die begrafnis maar het eenkant gestaan sy hoed in sy hande voor hom opgefrommel en die trane het stadig oor sy wange geloop, die dag toe die Tannie begrawe is. Hy het nog gehelp die graf toegooi."
Ons het nog n rukkie daar in die aandskemer gesit en toe vra ek: "Tannie, wie was die wit kinders.?"
"Hulle was, wag laat ek dink...Benjan Swart en Koos Du Plessis, ja dit was hulle. Hulle het groot geskrik."
"Lewe hulle nog?'
Ja, albei boer hier in die distrik... groot sterk mans geword."



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking