Maandag 09 Januarie 2012

DIAMANTBELOFTE.

Hy sit op die grond en vee met sy plat hand oor die sand...fyn sand wat met die spruit afgespoel is en deur die water hier uitgespoeg is. Die water het laas jaar dit hier kom gooi, hierdie jaar bly die reen weg en hy maak sy oe skrefies teen die son. In die verte sien hy 'n man aankom... snaaks want hier kom nooit mense nie!

"Ek het 'n boodskap vir jou.." se die vreemde man. Lukas staan op, hy sukkel al so 'n bietjie want die jare begin tel
"Wat is jou boodskap?." Hy is ongeduldig en vee met sy voet die skrywe op die grond dood.
Die ander man trap so 'n bietjie rond en staan dan stil, voete bymekaar.
"Dit is 'n woord van die Here af."
"Hoe weet jy?"
"Hoe weet ek wat?"
"Hoe weet jy dit is die Here wat dit gese het, en nie jou eie kop wat dit uitgespoeg het nie?"
"Ek weet, want ek is 'n kind van die Here en Hy praat met my..."
"Die een wat dit vir my kan laat hoor, gee ek 'n diamant..."
"Voor die Here moet mens nie sommer 'n gelofte afle en dit nie doen nie..."
"Nou kom, laat ek hoor hoe praat Hy en ek gee jou waaragtig 'n diamant." Lukas kyk op in die lug, bly 'n ruk lank stil.
"As, jy vandag met die Here praat en dit reen vanaand en as Hy met my praat sodat ek weet dit is Hy, gee ek jou 'n diamant."
"Het jy een?."
"Een wat?"
"'n Diamant."
"Nee, maar ek sal een kry..." Lukas bly stil en wag. Die boodskapper gaan eenkant en bid. Na 'n lang ruk kom hy terug en se: "Die Here, se dit sal kom reen."
"Julle ou klomp idiote! Julle kyk al vir jare maar niks gebeur nie..."

Die boodskapper draai om en begin loop in dieselfde rigting waarvandaan hy gekom het, teen die son in. Na 'n paar tree gaan hy staan en draai om: "Wil jy nie weet wat het God vir jou laat weet nie?" Hy staan nog met sy hoed teen sy bors, net soos hy gebid het, daar onder die boom.
"Ag, ek weet nie, se dan... wat staan jy so soos iemand wat 'n donkie soek om te ry en nie weet of hy wil of nie?"
"Gaan jy die diamant gee?"
"Ek sal, as ek weet dit het waar geword."
"Die Here het vir my gese jy moet saam met my die Woord verkondig onder die mense en dat jy nou saam met my moet gaan om te gaan leer."
"Nee, ek glo nie eers daar is 'n Here nie. Hoekom ek?"
"Ek weet nie, al wat ek gehoor het is jou naam en dat jy saam met my moet kom."
"Hoe weet jy dit is ek, ek ken jou nie eers nie!"
"Ek weet want die Heilige Gees het my hiernatoe gebring."
"Loop! se ek jou! Loop hier weg!"
"Onthou jy het voor die Here vir my 'n diamant belowe."
" As ek Hom hoor praat en as dit alles waar is en as dit vanaand reen..."

Daardie aand reen dit dat Lukas emmers onder al die gate in sy kamer se dak moet uitsit, later is die emmers vol. Hy gaan haal die badskottel en maak die emmers leeg... Dit word 'n nag van emmers uitgooi, badskottel uitbooi en weer en weer.

Dit reen tot dagbreek...hy moes aan die slaap geraak het en skrik wakker toe die kapokhaantjie begin kraai... dit drup nog in die emmers, vol tot by die rim.
Hy staan op en probeer om die parafien primus aan te steek, hy sukkel en sukkel, die ding wil nie brand nie. Natgereen!

Daarna reen dit vir dae aaneen, sag en deurdringend, soos die draadloos se. Lukas sit rond, hy het niks om te doen as dit reen nie, want sy werk is buite in die veld. Gister toe die wolke lyk of hul wil lig het hy uitgegaan en die skaap nader gebring, hier onder die bome in. Die lammers van 'n mofskaap is maar pieperig.

Hy probeer vuur maak in die stoof maar die hout is nat en dit smeul, sy oe brand van die rook wat terugborrel. Deur die rook sien hy iemand in die oop deur van sy huisie staan.

"Wie soek jy?"

Omdat Lukas so lank alleen woon en met min mense te doen kry praat hy net, hy dink nie oor sy woorde nie, dit val uit sy kop uit en oor sy lippe voor hy kan keer.

Die man praat nie. Hy loop in en kom sit op die stoel. Lukas se stemtoon verhoog toe hy praat: "Wat soek jy, se ek mos?"
"Ek soek vir jou, Lukas...ek het my boodskapper gestuur maar jy het nie saam met hom gekom nie."
"Wie is jy? Ek sal gaan waar ek wil en wanneer ek wil...niemand se my waar ek moet gaan nie!"
"Ken jy vir Jan Bandjies?"
"Nee..."
"Gaan soek vir Jan Bandjies en se vir hom hy moet saam met jou hiernatoe kom."
"Dit reen, ek loop nie in die reen en loop soek 'n man wat ek nie ken nie."
"Jy ken hom, hy was voor die reen, hier ..."
"As hy hier was, kan hy weer hier kom, ek loop nerens nie."

Lukas los die hout en die stoof, toe hy omkyk na die besoeker is hy weg. Lukas word yskoud toe hy sien die deur is toe en die man is weg.
"Ag laat hy loop ek bly net hier."
Dit reen 'n hele week aanmekaar, hy moet later sandsakke pak voor sy deur, die water stroom onder deur.
"Lukas..."
Lukas kyk op, wie praat met hom?
"Lukas..."

Die stem word harder en dringender, hy loop na die venstertjie langs die stoof... dit reen. Daar is niemand buite nie, hy stap na die deur en roep: "Praat maar, die deur is toegepak met sandsakke!"
"Lukas, dis Ek wat met jou praat, gaan soek na Jan Bandjies... ek het hom nodig."
Ergerlik antwoord Lukas: "Ek ken jou nie, en ek ken Jan Bandjies nie, ek loop nie."

Die stem vul die hele kamer asof die man binne is: "Ek ken jou...jy ken my nie want jy wil My nie ken nie."

Daarna is dit stil...Lukas draai om na sy bed asof iemand hom se om na die bed te kyk, op sy kussing le 'n brief...
In die brief staan net hierdie woorde...

Onthou jou belofte.

Onderaan die brief is geen naam nie, geen datum, net stilte... in die een hoek staan daar geskryf. Rigters 11:30-40.

1 opmerking:

  1. awesome! Baie mooi geskryf - ek het aanhou lees tot aan die einde om te sien wat gebeur ;)

    Link as deel van boodskap op die facebook groep gepost?

    AntwoordVee uit