Sondag 15 Januarie 2012

GOOI MY!

Wanneer jy moedeloos is, moeg vir die lewe, te moeg om jou arms op te tel, net wil wegkom van alles en almal dan is jy op dieselfde plek as waarvan ek 'n paar dae gelede gepraat het. Onthou as ek dit hier vir jou se wys ek nie 'n vinger nie, ek oordeel jou nie, want ek het al baie keer so gevoel. kom ons noem dit die spoelklip- gevoel.

Ek kan vir jou se tel jou kop op en gaan aan...eerste klip, of ag nee wat, dit is nie so erg nie, kom nou jy moet aangaan... tweede klip en die derde klip waarmee ek jou kan gooi is, die Here hou nie hiervan nie, staan op en gaan aan, of ruk jou reg. Daardie klip van ruk- jou- reg is so groot hy plof sommer al hier teen die kant van die dam in.

Al daardie klippe is al na my geslinger en weet jy ek dink hulle het my getref en nooit die water nie. Gelukkig het ons baie verwysings in die skrif na daardie gevoel. Job 3.1 Kon 19. Selfs Paulus het moed verloor en Jesus self het gebid dat die beker by Hom moes verbygaan. Daarom kan ek met vrymoedigheid vir jou se, jy is nie alleen nie. Wanneer iemand jou weer met een van die gladgevryfde spoelklippe gooi, maak jou oe toe en vra: Jesus moenie my alleen hier laat staan nie.

Vir my is al die spoelklip gegooi van: dit is omdat jy dit toelaat dat dit so met jou gaan. Weet jy ek het hom agterna gaan optel, goed bekyk en opgemerk hoe blinkgevryf hy is. Dit is maklik om iemand met 'n spoelklip te gooi wat jy jare al in jou binnesak dra.

Elia was verby depressief en wou dalk vir almal wegkruip daar in die woestyn, maar God het geweet waar hy is en 'n engel na hom gestuur met kos. Gaan lees maar self die stuk en dan staan jy 'n oomblik stil by 1 Kon 19 : 11-12.
Elia het gevlug want mense wou hom doodmaak maar God het nog 'n opdrag vir hom gehad. God gaan jou nie uitlos nie want jy is vir Hom belangrik, Hy het nog vir jou 'n opdrag.

Koes vir die klippe, mense gooi graag die wat half gebukkend loop van seer. Jesus het op die grond geskryf en vir die omstanders gese: "Die een wat sonder sonde is moet die eerste klip gooi." Daarom wat mense te se het is eintlik van geen waarde nie, hulle self sal dit moet verduidelik aan Hom wat op die grond geskrywe het.
·

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking