Donderdag 18 April 2013

VANDERKLOOF

Teen dagbreek draai ons af met die pad wat oor die Vanderkloofdam loop. Dit is die eerste keer dat ons hierdie pad ry en asof versigtig ry ons tussen die plase deur op die onbekende pad wat dan skielik tussen die berge in loop, Dit voel nog meer geheimsinnig asof die berge iets kosbaars wegsteek.  'N bobbejaangesin skarrel uit die pad en ons begin in stilte na die natuur kyk. Die eerste strale van die son val skuins teen die koppe uit en vorm skaduwees wat bly hang totdat die son daaroor kruip. Ek kyk op na die berg en sien die rotse wat ontbloot staan met die bou van die pad, dit maak mens bewus van die invloed wat die mens op die natuur het. Ruwe rotse ontbloot teen die nag se laaste koelte bring ons  by die damwal aan en hoorbaar word asems ingetrek. Dit is asof ons eerbied het vir die opkomende son teen die blinkswart watermassa. Die damwal staan fors en sterk, die rivier is gestuit. Ons hou stil op die brug en stap half versigtig tot teen die kant van die brug oor die wal. Majestieuse betonstrukture hou die rivier op die plek waar die ingenieurs dit wou he. Stewig vasgeanker tussen twee koppe. Die sluise is toe en alles rustig, die water se sagter golwe klots teen die kante van die wal. Aan die teenoorgestelde kant staan die brug trots oor ie rivier wat nodig was voor die bou van die wal.

Ons besluit om verder te ry en die dorp te gaan besigtig. Eers krokel die pad deur die wildresevaat en net toe die son sy strale oor die berg laat gaan gewaar ons die koedoe wat skaam wegkruip tussen die wag-n- bietjie en soetdorings. Groot rotse omsoom die pad wat met 'n steilte uitklim teen die rant van die berg.   Bo -op die berg se kant waar die pad weer reguit word ontmoet die son ons en lei ons die dorp binne. Wat 'n pragtige gesig- ons eerste ontmoeting met Vanderkloof is werklik soos 'n verrasing in die Karoo! Met 'n laaste halwe draai land ons binne in die dorp. Ons kan ons oe nie van die natuurskoon afhou wat in die koelte van die oggend wagtend le nie. Die polisiestasie is sommer byderhand en daar kry ons toe inligting oor die dorp en al die bedrywighede. Ons besluit terwyl die dorp nog in sy effense ligte oggendslapie verkeer gaan ons gou deurry en kyk hoe dit lyk. Die woonbuurte is pragtig met tuintjies en skoon strate teen die agtergrond van 'n spieelgladde watermassa. ons ry oral mense tee wat stap of draf vir oefening en dan ook die vroee werkers wat vrolik loop en klets. Dit val jou dadelik op die gemoedelikheid van die mense en die Afrikaans val vreemd sag op jou oor.

Ons het oor die brug, in die dorp gery, na die res van die dorp wat op die punt van die inham le. Hier ry ons onder die bome deur en ontdek hoeveel huise daar weggesteek is onder hoe bome. Die borde van Renosterberg Munisipaliteit en die Oord met pragtige bome wat skadu bied staan trots voor ons.Met die omdraai let ons die massiewe kruis op teen die berg wat in die aand glo verlig word en as baken dien vir vliegtuie. Oor die dam le daar nou 'n ligte miskombersie asof die nag nog bietjie huiwer. In die klein baaitjie met jetti le 'n boot en wag op sy eienaar. Oral naby die water is bote besig om nader te beweeg om die spieelgladde dam aan te durf. Ons besluit dat om nou hier weg te gaan is net nie die beste idee nie en gaan soek 'n gastehuis. Daar is 'n hele paar om van te kies en ons is hoogs in ons skik toe ons, ons skoene kon uitskop en 'n heerlike ontbyt kon bestel in die Lodge wat 'n wonderlike uitsig het oor die dam en die dorp. Met die belofte van 'n bootreis deur 'n vriendelike booteienaar het ons daardie aand vroeg gaan slaap...ook nie voordat ons na die kruis gaan kyk het wat troon oor die  dorp nie. 'n Rustige nagrus is al wat ons nou nodig het. 'n Trop taretale se geroep laat ons besef die natuur is om ons.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking