Maandag 10 Mei 2010

Seisoene

Terwyl ek deur die bos stap voel ek die verandering aan, die natuur sug saggies en is wagtend, die lug helder blou en stil. Ek skop na die los tapyt van blare op die woudvloer en ruik die klammigheid van verotte plantmateriaal. Hulle is hier iewers ek weet, elke seisoen kry ek hul hier, elke keer net besig met iets anders want elke seisoen bring sy eie dinge, sy eie aktiwiteite mee en vereis dat hulle op verskillende maniere optree. Dan gewaar ek hulle besig met 'n gewerfskaf en geskarrel ... kleintjies spring rats agter die ma aan en wip weg in die stam. Eekhorings maak hul tuis in die boomstamme en versamel kos vir die winter. Sonder kalenders begin hul werk, begin hul kos versamel of skuiling soek vir die winter.

Herfs is die mooiste mooiste maand, vir my. Dan is die lug op sy blouste, die kosmos op sy geilste en die blare verkleur van groen na rooi, geel oker en roes. Dan skrop die hoendertjies tussen die los blare en roep hul kuikens, hulle pik-pik na goggas en hardloop agter vlieende insekte aan. Niks is mooier as 'n moeder hen wat sopas dertien kuikens uitgebroei het en trots aangeloop kom nie. Daardie bolletjies goud-geel dons wat rondskarrel is so mooi...in volle afhanklikheid van die hen.

In my tuin is nog 'n paar varkore en die viooltjies blom pers aan die voet van die uitgeholde boomstomp. Kappertjies lag helder rooi, oranje en geel tussen droe takke en dooie hout. Eintlik is die tuin half stil, die swaeltjies en kwikkies is weg, die duiwe sit ver teen die son wat al skaler word. Ek stap onder die bome deur en sien die blare dwarrel grond toe, ek vang een en vou dit toe in my hand, klam en goud vul my palm en ek hou dit versigtig vas broos le dit koesterend op my hand. Kunstig gevorm tot perfeksie, die are uitgesprei deur 'n bonatuurlike vakmanskap, die kante van die blaar fyn afgewerk en stewig gekartel, uniek, net so gemaak vir die spesifieke boom. Ek kyk op en sien 'n doudruppels wagtend teen die son aan die boonste blare van die boom en in die weerkaatsing van die son sprei die reenbogie pers en pienk.

Dan sien ek aan die begin van my tuin iemand staan, beeldskoon in wit geklee omring met die goudkleur van die son asof goddelik ... sy het teruggekom. In die stille wete dat ek vir haar gewag het stap ons na mekaar toe, ek gee vir haar die blaar om die oomblik te vier.

Woensdag 05 Mei 2010

ONDERBOS OP VERSOEK 11

Hy sit tussen ons in die koets oppad na die koning se paleis. Die paleishekke gaan oop net toe ons indraai in die oprit. Vreemd dink ek, asof hulle ons verwag het, ek kyk vraend na my pa en hy knik vir die wag. Ek probeer so rustig moontlik bly sodat ek nie onnodig die seun onrustig maak nie. Die wiele van die koets knars op die steentjies voor die paleis, ons klim uit en staan in die warm gloed van die oggendson. Die paleistuin blom vrolik en begroet ons met die mooiste blomme en struike. Skoenlappers dartel rond, bye werk onverpoosd in die kelke van die mooiste lelies en rose. Die gras is lowergroen en perfek gesny. Elke keer verbaas dit my hoe perfek alles is.

Ons stap deur die groot saal waar die koning sit, ek kyk stip voor my na die koning en my oog vang die glans van die vloer in die sonstrale wat deur die vensters flits. Hoe boog vensters versier die mure aan weerskante. die koning begroet ons hartlik en beveel die lakei om te gaan. Die koning nooi ons na 'n kleiner vertrek. Ons sit in die diep rooi stoele met hoe rugleunings terwyl die koning met een van die wagte praat. Ek hou die seun dop en sien dat hy ongemaklik senuagtig vroetel met sy hemp. Dit verbaas my dat hy so kalm gebly het en sonder teestribbeling saamgekom het. Dalk het hy besluit hy het nie 'n keuse nie.

Die koning praat rustig met ons en vra dat die wag die seun wegneem sodat hy eers met ons alleen kan praat. Dit duur 'n paar minute voordat die wag terug is en toe eers begin die koning praat. Ek vertel hom alles en maak seker dat ek niks uitlaat nie. Nadat hy na ons geluister het, het hy met die seun gepraat en hom beveel om agter te bly, hy verwag van hom om al sy makkers uit te wys asook die boere en ou vrou wat betrokke is.Ek en my pa kan maar huis toe gaan, hy sal alles verder hanteer. net toe ons by die saal se deur kom roep die koning my terug. Hy bedank my en se ek het goeie werk gedoen, hy sal my laat weet wanneer ek moet inkom vir my volgende opdrag.

Net buite die paleis sien ek dit weer daar in die roostuin, die dame wat dans in wit en ligroos. ek draai om om dit vir my pa te wys en kom agter hy is weg, ek draai onmiddelik om en kyk stip na waar ek haar gesien het,,, sy is ook weg! Dit verstaan ek gladnie van my pa nie, hy kry die onmoontlike altyd reg... verdwyn en verskyn net wanneer hy wil.

Voordat ek in die koets klim kom sit die valkie op my skouer en asof iemand dit vir my se weet ek, ek is nou alleen. Ek sal nou die werk verder alleen moet behartig. Wat het die vreemde vrou met my pa te doen? Ons ry deur die groot hout deure en ek kyk weer hoe stylvol alles gedoen is, perfek asof onwerklik. Op my skoot val 'n enkele roospienk roosblaar...