Maandag 10 Mei 2010

Seisoene

Terwyl ek deur die bos stap voel ek die verandering aan, die natuur sug saggies en is wagtend, die lug helder blou en stil. Ek skop na die los tapyt van blare op die woudvloer en ruik die klammigheid van verotte plantmateriaal. Hulle is hier iewers ek weet, elke seisoen kry ek hul hier, elke keer net besig met iets anders want elke seisoen bring sy eie dinge, sy eie aktiwiteite mee en vereis dat hulle op verskillende maniere optree. Dan gewaar ek hulle besig met 'n gewerfskaf en geskarrel ... kleintjies spring rats agter die ma aan en wip weg in die stam. Eekhorings maak hul tuis in die boomstamme en versamel kos vir die winter. Sonder kalenders begin hul werk, begin hul kos versamel of skuiling soek vir die winter.

Herfs is die mooiste mooiste maand, vir my. Dan is die lug op sy blouste, die kosmos op sy geilste en die blare verkleur van groen na rooi, geel oker en roes. Dan skrop die hoendertjies tussen die los blare en roep hul kuikens, hulle pik-pik na goggas en hardloop agter vlieende insekte aan. Niks is mooier as 'n moeder hen wat sopas dertien kuikens uitgebroei het en trots aangeloop kom nie. Daardie bolletjies goud-geel dons wat rondskarrel is so mooi...in volle afhanklikheid van die hen.

In my tuin is nog 'n paar varkore en die viooltjies blom pers aan die voet van die uitgeholde boomstomp. Kappertjies lag helder rooi, oranje en geel tussen droe takke en dooie hout. Eintlik is die tuin half stil, die swaeltjies en kwikkies is weg, die duiwe sit ver teen die son wat al skaler word. Ek stap onder die bome deur en sien die blare dwarrel grond toe, ek vang een en vou dit toe in my hand, klam en goud vul my palm en ek hou dit versigtig vas broos le dit koesterend op my hand. Kunstig gevorm tot perfeksie, die are uitgesprei deur 'n bonatuurlike vakmanskap, die kante van die blaar fyn afgewerk en stewig gekartel, uniek, net so gemaak vir die spesifieke boom. Ek kyk op en sien 'n doudruppels wagtend teen die son aan die boonste blare van die boom en in die weerkaatsing van die son sprei die reenbogie pers en pienk.

Dan sien ek aan die begin van my tuin iemand staan, beeldskoon in wit geklee omring met die goudkleur van die son asof goddelik ... sy het teruggekom. In die stille wete dat ek vir haar gewag het stap ons na mekaar toe, ek gee vir haar die blaar om die oomblik te vier.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking