Donderdag 18 Maart 2010

ONDERBOS OP VERSOEK 10

Voordat ek behoorlik my sit kon kry, trek die koets weg. Ek gaan nou elke dag die afgelope week na die mark, more moet ek vir die koning verslag doen en ek het nog niks verder gevorder nie, behalwe dat ek gisteraand net voordat ons sou terugkom iets opgemerk het aan die onderpunt van al die stalletjies...iets baie vreemd en dit het my uit die slaap gehou vir ure. Eers nadat ek uit moedeloosheid opgestaan het en in die kombuis warm melk gaan drink het, het ek aan die slaap geraak.

Die mark is besig soos gewoonlik en dit is 'n warboel van mense en waens, almal probeer so vinnig moontlik hul goed uitpak. Ek besluit om eers na die blommemark te gaan want daar is dit net rustiger en meer georganiseerd. Terwyl ek tussen die stalletjies en mense deurvleg vang my oog weer dieselfde eienaardige vrou wat ek laat gistermiddag opgemerk het. Sy pak versigtig en tydsaam haar botteltjies en reukolies uit, dan vryf sy hier en draai daar. Terwyl ek daar verbystap draai sy haar rug op my en maak asof sy met iets besig is, ek merk op dat daar een van die jong seuns by haar sit en gesels. Sy wys iets vir hom en praat saggies sodat ek niks kan uitmaak nie. Ek maak asof ek uitstap na die blommemark maar verdwyn tussen die mense in, ek knoop 'n geselsie met iemand aan en gaan sit onopgemerk oorkant die vreemde vrou se stalletjie. Ek word 'n heerlike koppie kruietee aangebied en drink klein slukkies daarvan terwyl ek haar dophou. Sy meng en vroetel met haar smeergoed en olies. Die geur van balsem en kruie vul die lug. Ek koes weg agter 'n hoop sakke.
Dan oorhandig sy iets aan die seun en beveel hom om te loop en gou te maak. Hy moet die mengsel aan iemand gaan oorhandig. Ek hou hom dop tot waar ek sien hy roep van sy makkers uit die mark, toe weet ek...

So vinnig as wat ek kan, beweeg ek aan die anderkant om en vang hulle almal in een of ander vergadering buite die mark, ernstig aan die bespiegel en redekawel. Seun nommer een oorhandig aan elkeen bietjie van die olie met 'n bevel. Ek kon nie hoor wat hy se nie en probeer hom agtervolg. Hy loop rustig en al fluitende terug na die ou vrou. Die res van die seuns verdwyn asof dit towerolie was.'n Goeie tien minute het verby gegaan voordat ek een van hulle opgemerk het, natuurlik weer onder 'n wa. Wat hulle daar doen weet ek nou-al maar wat maak hulle met die olie?

Op daardie oomblik vlieg die valkie van my skouer af op, hy het my pa opgemerk wat
saam met meneer Bann die mark binnestap. 'n Valk kan baie ver en akkuraat sien,hy herken ook iemand oor 'n buitengewone afstand. My pa en meneer Bann kom geselsende
aangestap, by hulle is Labby. Ek dink onmiddelik hier kom probleme. Tog het Labby, wat 'n baie gehoorsame hond is, hom baie goed gedra. Ek stap hul tegemoet en vertel feitlik onmiddelik van die nuwe ontdekking. Meneer Bann stap rustig deur die stalletjies tot by die ou vroutjie. Hy knoop 'n geselsie met haar aan en koop so wraggies van die olie. Terug by ons smous hy daarmee onder ons neuse... ek probeer nugter dink en vertel van die seuns maar ek voel bedwelm van die skerp reuk van die olie. Nou weet ek...sing dit deur my kop... my kop draai en ek voel asof ek gaan val...ek gaan sit vir veiligheid op 'n sak mielies daar naby.

Gou voel ek beter maar nou begin ek dink... daardie olie is bedwelmend en dalk verslawend. Ek spring op en steier so effens, haastig begin ek loop in die rigting van die ou vroutjie en haar trawante. Labby draf agterna, ek het lank daar bly staan en die seuns en ou vrou dopgehou. Die seuns smeer van die olie aan hul polse en dan snuif hulle daaraan. 'n Dwelm, ek het dit...die seuns word betaal met dwelms...die dwelms is in die olie. Briljant, dink ek en slaak 'n sug van verligting want nou het ek iets om die koning te vertel...

Met ander woorde, se ek later vir my pa, die kinders is die verklikkers van die ou vrou. Sy beloon hulle met die olie maar wat doen hulle nou juis om die beloning te verdien. My pa en ek het gaan sit en lank oor die saak gedink. My aandag word afgetrek deur Labby wat onder 'n wa inkruip en daar rondsnuffel. Hy staan terug en ek sien hoe sy hare rys. Genoeg vir my om nader te staan en die kind aan die anderkant te sien uithardloop. Ek sit die seun agterna met Labby langs my. Buite die mark haal Labby hom in en keer hom vas. Ek loop nader en begin met hom praat, gelukkig kom my pa by en die gesprek begin vlot want hy kan hulle taal goed praat en verstaan. Die kind beur weg en begin smeek maar ons het hom, hy sal moet saam na die koning want daar sal hy praat dis verseker...

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking