Dinsdag 09 Maart 2010

ONDERBOS 9

Op my hand skyn 'n dun strepie son wat deur die skrefie in die deur skyn. Ek maak my hand stadig oop en toe terwyl ek wag dat my pa en meneer Bann by my aansluit. Ons het hard gewerk die afgelope weke. Oftewel ek het hard gewerk en hulle het onophoudelik gesels, raad gegee en toesig gehou, daar was nie een oomblik wat ek kan klassifiseer as vervelig nie. Ek het saam met die boere gewerk, geploeg, geplant, gesaai en geoes. Ek het sakke gedra, waens rondgesleep en goedere mark toe aangery met perde wat die wa sleep natuurlik. Alles is mos uit 'n vorige era hier. Ek het baie by die wamaker geleer en dit baie interessant gevind ek wou ure daar spandeer maar is dit nie toegelaat nie. As meneer Bann eers op sy horlosie tik en se die tyd stap aan dan moet ek weet.

Die besoek aan die mark is elke keer 'n belewenis, al die mense, almal so kort en geset. Die boere het oor die algemeen baarde en groot vel hoede op sodat die son hulle nie kan brand nie. Die hoede woed deur hulself gemaak, die velle self gebrei en gelooi. Elke liewe een het 'n boep,'n bles en 'n pyp natuurlik. Hier rook hulle net kruieblare en dit is glo uitstekend vir mens se gesondheid.

Die mark word in 'n gebou wat herinner aan ons lapas, gehou. Die eerste dag terwyl ek opstap teen die steilte na die mark harloop 'n kind my amper onderste bo. Vrolike skynbaar sorgvrye kinders speel wegkruipertjie tussen die stalletjies en hou nie op voordat almal moeg en uitgeput op die sakke neerval nie. Ek het hulle 'n rukkie staan en bewonder en gedink aan die kinders in my land wat die heeltyd opgepas moet word, wat die heeltyd ingehok sit omdat daar te veel gevaar buite dreig.

Terwyl ek staan en na alles kyk stoom 'n boer op my af, hy het 'n hele klompie klagtes waaraan ek moet aandag gee. Ek kyk rond waar meneer Bann homself bevind net om te sien hy staan en wyn proe. Iets waarmee hy uitstekend is. Ek luister na die klagtes die een na die ander en probeer my bes, gou stuur ek hom na meneer Bann en koes agter 'n hoop sakke. Meneer Bann kom na my aangestap, die boer swaai sy arms en beduie woes, ek besluit om by hulle aan te sluit. Met gesonde verstand en natuurlike insig kom mens ver, ek het saam met meneer Bann al die probleme gou uitgesorteer. Pryse wat geval het en goedere wat oorgemerk is ensovoorts. Soos net 'n boer kan protesteer word dit hier ook gedoen.

Terwyl ek na die een boer se voorraad kyk en die boonste mielies oplig val daar mielies uit wat gladnie reg is vir die mark nie, hul is gevreet deur insekte en van baie swak gehalte. Net toe ek buk om die mielies op te tel sien ek onder die wa 'n jong kind wegkruip, eers steur ek my nie daaraan nie... maar later het ek met meer versigtigheid opgetree. Ek druk die slegte mielies terug waar dit uitgeval het en sien my pa daar rondstaan. Ek stap na hom toe en vertel hom daarvan, net toe die seun dit sien kruip hy uit en hardloop 'n paar stalletjies verder en praat met die boer wat daar staan en gesels. Ons stap na die wa en ek wys hom wat ek gevind het. My pa se vir my dit is waarna die koning verwys het en dat ek nog meer moet soek. Dit is die vrot vrugte in die mandjie.

Hierdie speletjie begin nou ernstig raak dink ek terwyl ek die kinders fyner dophou, hul speel nie regtig net wegkruiper nie van hulle wat bietjie ouer is doen die verklikwerk. Die kinders wat dit doen het vuil en geskeurde klere aan, altyd 'n slaprand hoedjie op en kaalvoet. Later sou ek uitvind hulle gaan ook nie skool nie en le heeldag by die mark rond, so kry hul hierdie werk en word dan beloon met kos. Daar is altyd 'n vrot appel wat die ander aansteek. Ek dink dadelik daaraan dat ek by die oorsaak sal moet begin, dit help nie om 'n probleem van agter te pak nie, nee soek die kern van die saak.

Ek vou my hande agter my rug en stap rustig deur die stalletjies, kyk en luister baie fyn. Ek maak inligting bymekaar sodat ek die probleem kan uitsorteer. Dan stap ek na die mooiste deel van die mark, die blomme mark. Voor ek egter daar uitkom moet ek eers deur die vrugte en dit is hier waar ek gaan staan en die mooiste vrugte wat ek nog in my hele lewe gesien het bewonder. Elke vrug is op sy beste, die appels, rooi, groen geel en blink gevryf. Dit lyk asof dit kunsappels is, net die beste is goed genoeg. Ek soek na kinders wat wegkruip maar kry niks, ek lig die vrugte op en soek, daar is nie een slegte vrug nie. Was dit dan nie 'n mandjie vrugte nie?

Die blommemark is verruklik en die heel mooiste lelies wat ek nog ooit gesien het begroet my. Ek neem die verskillende geure van die rose waar asook die betower mooie kleure. Die blomme lyk anders half bonatuurlik en ek weet hier le ure se leer voor. Om elke naam te leer, elke kweker te identifiseer asook al die plase te besoek sal harde werk wees en deeglike beplaning. Agter my kom my pa en meneer Bann aan, my pa met lang rustige tree en meneer Bann wat draf om by te hou. Die valkie het saamgekom en intussen op my pa se skouer gaan sit. Dit is asof die mense respek het vir die valkie...

Daardie aand op my bed met die maan net 'n strepie teen die naghemel dink ek aan elke besondere blom en vrug. Kan dit beter, ek betwyfel dit. Ewe skielik is ek nie meer spyt omdat ek hier is nie. Hier het ek my pa herontdek en ek het so baie geleer.
Die mense is wonderlik vriendelik en nogal koddig. Net een ding pla my... sal ek ooit die probleem vir die koning kan uitsorteer binne 'n week. Want dit was die opdrag...

2 opmerkings:

  1. wel..die tyd hardloop uit...dis al die 12de en daar is net 'n week om die saak op te los... Ek lees graag verder!

    AntwoordVee uit
  2. dis eintlik ek (Anita..nie Marius)..

    AntwoordVee uit