Sondag 29 Januarie 2017
brief aan my niggie
Posbus 7
Woestfontein
8771
27 Januarie 2017
My liewe nig Hester
Ons sou so lekker hier op die plaas gekuier het gedurende die lang
skoolvakansie. Nou is jy siek, ek hoop dit gaan al beter. Ek kan jou verseker
as jy hoor wat gister met my gebeur het, is jy sommer gou perdfris.
Omdat ek natuurlik so alleen is, het ek eers n uur lank gaan swem in die
plaasdam, nie die gronddam nie, die sementdam naby die vrugteboord.
Met die terugstap huistoe, val my oog op die solderdeur wat effens oopstaan.
Net daar besluit ek om bietjie daar te gaan rondsnuffel, dan trek ek sommer
daar my klere aan. Met die oopstoot van die deurtjie bo die trap, het ek besef
hoe vreeslik ek jou mis. Spinnerakke hang alweer toue en die muise piep ook
in hul broeiplekke. Ek het vasberade gebeur na die hoek waar ons die mandjie
gesien het. n Vlermuis het laag oor my gevlieg, muise het geskarrel,
spinnerakke het in die flou lig gebewe. Dit is stof sover ek gekyk het, natuurlik
omdat die deur oop was.
Net toe ek die mandjie sien, slaan die deur met n harde knal agter my toe.
Verskrik het ek rondgetas, my hart het in my keel geklop. Ek gooi sommer my
somersrok bo-oor my nat swembroek ... alles het stil geword om my.
Ek het die mandjie gegryp en teen die deur geskop. Daar val darem
ligstrepies deur die plankvloer se gleuwe en spasies waar kwaste uitgeval het.
Die venster was gegrendel so ek het maar daarvan vergeet.
Die enigste manier uit is met die trap af. Voor ons bang word, moet ek
besig word, het Ouma ons mos geleer. Ja, ek weet ons het besluit om dit
saam te doen... ek was immers in n noodsituasie of hoe? Versigtig het ek stuk
vir stuk uitgehaal en langs my neergesit, ek bedoel nou die mandjie se inhoud.
Bo in die mandjie was Ouma se sjaal wat sy die laaste jaar om haar skouers
gedra het, ek het dit versigtig om my skouers gehang en my verbeel ek sien
haar voor my sit met haar breiwerkie.
Alles wat in daardie mandjie was lyk nog silwerskoon, nie veel stof op nie, as jy
in ag neem hoe lank sy reeds oorlede is. Juwele in n leersakkie, kraletjies
toegebind in n stukkie borduurlap, borsspelde en ander klein juwele in n
gehekelde sakkie.
Daar is wel ook n paar briewe in wat ons saam sal lees. Wat ek onder
die briewe ontdek het, het my na my asem laat snak. Eers het ek rondgekyk in
die solder en doodseker gemaak niemand kruip daar weg nie, want hierdie
gaan net ek en jy, my dierbare niggie, deel.
Gelukkig het n werker my daarbo gehoor kap en skop aan die deur en het
hy my kom red. Dit was eers baie later, in my kamer, dat ek die geleentheid
gekry het om weer daarna te kyk.
Daardie nag kon ek nie slaap nie. Later het ek n kers opgesteek.
In die lig van die kers was alles nog mooier, nog meer interessant en meer
nostalgies. Alles, letterlik alles, in daardie mandjie is ongelooflik belangrik vir
ons twee, naamgenote. Kan jy glo die liefdesbriewe aan Oupa toe hy in die
Vryheidsoorlog geveg het, is veilig bewaar in mooi lap met n lintjie vasgestrik.
Ons moet groot besluite neem oor die skat. Dit moet iets asemrowend
mooi of duur wees, want dit is veilig bewaar in n verseelde houtkissie.
Ek wens so jy was gesond om te kom kuier! Laat weet hoe dit gaan.
Sterkte, tot ons mekaar weer sien.
Met liefde- groete.
Jou niggie, Nauda.
Ns. Terloops daar was mos n halfgebreide breiwerkie bo in die mandjie, dit is
nou weg.
Geskryf deur: Nauda van Rensburg
Teken in op:
Plasings (Atom)